Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word
Skriflesing: I Korinthiërs 13: Kolossense 3:12-15 Teks: Kolossense 3:15a Sing: Ps. 95-1:1,2,4; Sb. 9-4:1,6; Ps. 96-1:1,8; Ps. 97-1:1,6,7.
‘Verder, laat die vrede van Christus in julle harte regeer. As lede van een liggaam, is julle juis daartoe geroep. En wees dankbaar.’
LAAT DIE VREDE VAN CHRISTUS IN JULLE HARTE REGEER
Die brief aan die Kolossense is vol lewenswysheid. Die verse wat ons gelees het beteken soveel. Dit sit werklik vol van wysheid. Wysheid is iets anders as verstand, kennis of intelligensie. Wysheid is die kuns om reg te reageer, om op die regte oomblik die regte besluite te neem. In ons alledaagse lewe het ons baie wysheid nodig. Ons word geraak deur probleme in verhoudings. Rusies met bure. Eiewyse mense, gesondheid en siekte, armoede en rykdom, opvoeding en arbeid. Wysheid gaan oor die lewe en ook oor die Lewe. ‘n Belangrike teks in die Nuwe Testament oor wysheid lees ons Kolossense 2:3 – ‘Die geheimenis is Christus, en in Hom is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind.’ Hierdie wysheid word verder in Kolossense 3 uitgediep. Wysheid is om saam met die Here te leef. Om sy liefde te ken en jou daarmee te beklee.
Die vrede van Christus as riglyn
In Kolossense 3 toon die Here vir ons aan, hoe ons in verhouding met mekaar kan leef. Daarvoor gee Hy vir ons iets wat bepalend is. ‘n Riglyn, ‘n maatstaf. Dit is die vrede van Christus. Dit is die woorde wat Paulus gebruik. In ons vertaling staan daar – ‘…laat die vrede van Christus in julle harte regeer.’ Letterlik staan daar, laat die vrede van Christus bepaal. Christus bepaal hoe jy moet leef, hoe jy in ‘n verhouding moet optree. Hierin kan jy sien hoe prakties die christelike geloof is.
Geroep om in hierdie vrede te leef
God het julle uitgekies. Julle is sy heiliges. Hy het julle lief. Pragtige woorde wat die Here in hierdie gedeelte aan sy gemeente in Kolosse rig. Bekende taal uit die Woord. In die Ou Testament praat die Here so met die volk Israel. Later praat Hy so oor Jesus Christus. Nou skryf Hy hier so oor sy gemeente. Oor die kinders van God. Hulle is vir God spesiaal. Kosbaar. As jy hierin deel word jy opgeroep om jou lewe anders in te rig. As die vrede van Christus bepalend is, dan moet dit in jou lewe ook sigbaar word. Daarom hoor ons hier die lewenswysheid – ‘Beklee julleself met innige meelewing, goedheid, nederigheid, sagmoedigheid en geduld. Verdra mekaar en, as enigiemand ‘n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar.’
Met harte vol dankbaarheid
Vers 15 eindig met die woorde – ‘En wees dankbaar.’ As jy onder die indruk is van dit wat die Here jou mee seën, dan lei dit tot ‘n lewe wat aan God gewy is. Bewus van wie Hy is en wat Hy alles gedoen het, ook vir jou persoonlik, maak Hy jou klein voor Hom. Dit bring jou by dankbaarheid. Vers 17 sê dit – ‘En wat julle ook al doen, in woord of daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus, terwyl julle God die Vader deur Hom dank.’