Skip to content
Menu

Kolossense 3:1-17

‘Laat die woord van Christus in sy volle rykdom in julle woon.’

DIE WOORD VAN CHRISTUS IN ONS

Woorde, gedagtes, idees, uitsprake, informasie, taal. Ons wêreld is vol hiervan, so ook ons harte. Ons leef in ‘n wêreld vol woorde en menings. Ons praat, ons lees, ons luister. Alles woorde en gedagtes wat ons besig hou, wat ons beïnvloed. Dinge waarvan ons vol kan wees. Jy kan nie hiervan loskom nie, dit is die konteks van ons bestaan. En nou mag ons vanoggend weer hoor. Waar jy in ‘n wêreld leef, waar soveel gedagtes en idees daagliks op jou afkom, is dit nie bepalend nie. Die Here gee vir ons iets anders. Laasweek in die aanderediens het ons gehoor – ‘Laat die vrede van Christus in julle harte regeer.’ Dit is die riglyn en maatstaf vir ‘n christen se lewe. Vanoggend bou ons hierop verder. ‘Laat die woord van Christus in sy volle rykdom in julle woon.’

Die woord van Christus

Paulus rig ons aandag op Christus se woorde. Daar staan – die woord (logos) van Christus. Hierby kan ons dink aan woorde wat Christus self gespreek het. Maar ook aan woorde wat gaan oor Christus. In die brief aan die Kolossense gaan dit veral oor die laaste: die woord van Christus is die evangelie. Dit is die boodskap dat Christus alles is (3:11); dat Hy die beeld van God is (1:15); dat alles deur Hom en vir Hom geskep is (1:16); dat Hy die misterie van God is (2:2-3). Die boodskap kom deur woorde na ons toe.

In sy volle rykdom

Die woorde van Christus vorm ‘n skat. Hulle is besonders kosbaar, betekenisvol en waardevol. Die opdrag is dat die woord van Christus, in sy volle rykdom in julle woon. In die konteks sien jy dat daar iets met hierdie rykdom moet gebeur. Dit moet ontdek en ontgin word. Dit is nie vanselfsprekend dat dit in jou hart sal woon nie. Die woorde moet jy met sy volle rykdom inneem. Daarvoor moet ruimte wees in jou kop en in jou hart. Om die volle rykdom van Christus se woorde te ontdek, kos tyd en ywer. Een keer lees en een keer hoor is onvoldoende. Deur herhaling kom ons op die spoor van die rykdom van die woorde.

Woon in ons

In hierdie gedeelte word die gemeente aangespreek. Dit gaan hier oor julle en nie jy nie. Dit plaas ons as kerk van die Here voor die vraag: Is ons hiermee besig? Staan die evangelie van Jesus Christus in die middelpunt? Dit is die hartklop van die gemeente: laat die woord van Christus in sy volle rykdom in julle woon. Met die gevolg dat ons mekaar vermaan en onderrig, God eer en alles doen in die Naam van die Here. Christus se woorde in ons is ‘n bron van die nuwe lewe.