Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word
Skriflesing: Obadja 1 Fokusvers: 17 Sing: Ps. 149:1,3,4; Ps. 79:1,5,6; Ps. 69:8,13,14; Ps. 37:5,6,17,21; Ps. 144:1,3,5.
In Christus skenk die Here ontkoming en besitting!
Die profesie van Obadja is die kortste boek in die Ou Testament. Die tyd waarin die profesie ontstaan het is nie heeltemal duidelik nie. Wat wel duidelik is, is dat Jerusalem onlangs deur vyande geplunder is. Obadja profeteer dan teen Edom, omdat hulle hul in hierdie ramp verlekker het en daaruit voordeel getrek het. Edom was die nageslag van Esau. Hulle was ’n tragiese voorbeeld van dit wat gebeur as geslagte volhard in opstand teen God. Die belofte van die Here was vir hulle ’n voorwerp van bespotting. Obadja maak dit dan duidelik dat dit wat pas met die kerk gebeur het nie haar einde tipeer nie.
Ontkoming
Die Here kondig aan dat Edom nie sy groot dag sal oorleef nie. Dit is uiteindelik die dag wat God die volle vloek van sy verbond sal laat realiseer. Dit is die oordeelsdag. Vir die volke wat hulle teen die Here verset het sal die dag verskriklik wees. Ook die Edomiete sal vergeld word vir hulle bose dade. Waar die plundering van Jerusalem hulle aanleiding gegee het om met die kerk te spot, sal die Here hulle oordeel. Maar dan kom die ironie, in Jerusalem sal daar ontkoming wees. Daar, by die heiligdom van die Here sal sy verskriklike oordeel ontkom kan word. Op daardie plek waarmee die Edomiete gespot het. Dit is die groot ironie van die wêreldgeskiedenis. Met die kerk sal daar altyd gespot word, maar dis uiteindelik in die Here se woning waar daar ontkoming wees. Die Here se woning het immers vir Christus as hoeksteen.
Besitting
Maar, die Here se belofte strek ook nog verder. Die kerk sal haar volle besitting in oorvloed terugkry. Die Here het immers belowe, sy sal die poort van haar vyande in besit neem. Dit is ook ironies, as ons in ag neem dat die kerk in die tyd van Obadja so pas geplunder is. Haar besittings is haar ontneem. So handhaaf die profetiese woord die Here se beloftes ten gunste van sy kerk, teen Edom wat haar vyand geword het. Die ewige erfenis wat die Here aan sy kerk belowe het sal aan hulle gegee word in hoër mate as wat hulle ooit ’n erfenis in die verlede geken het. Trouens, hulle sal deur die Here krag gegee word om dit in besit te neem. Die vyande van die Here sal voor sy kerk soos kaf wees wat deur die vuur verteer word. Uiteindelik sal die Heilige Gees die kerk aanvuur om met geestelike geweld hulle hemelse erfenis in besit te neem. Dit beteken dat ons van die Gees krag ontvang om ons doodsvyande bloedig te bestry. Hoe meer ons hulle bestry, hoe beter en hoe duideliker smaak ons die hemelse erfenis wat Christus vir ons voorberei is. Wanneer die sonde immers doodgemaak word, dan smaak ons die Here self beter. Wanneer ons ten bloede weerstand bied teen die duiwel en die wêreld dan smaak ons Hom wat reeds oorwin het, Hy wat ons erfenis is.