Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word.
Skriflesing: Psalm 103 Beleidenis: Heidelbergse Kategismus Sondag 16 v&a 42 Fokusverse:2,15-17
Sing: Sb. 5-3:1,4,5; Ps. 103-1:1,2; Ps. 68-1:9; Ps. 103-1:8,9,11.
‘Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie… ‘n Mens, soos gras is sy lewensdae, soos ‘n veldblom, so bloei hy. As die wind oor hom waai, is hy nie meer daar nie en sy plek ken hom nie meer nie. Maar die troue liefde van die Here is van altyd af en vir ewig oor hulle wat vir Hom ontsag het…’
Die troue liefde van die Here is van altyd af en vir ewig
In die Bybel word ‘n aantal voorbeelde gebruik om die afsterwe van ‘n persoon te beskryf. Prediker noem dat die silwerdraad van die lewe verwyder word. Die stof keer na die aarde terug. Die mens se gees keer terug na God, wat dit gegee het. In 1 Kor. 15 vergelyk Paulus die mense-lewe met ‘n koringkorrel, die oomblik van afsterwe is soos wanneer ‘n koringkorrel in die grond gesaai word. In die grond gebeur ‘n wonderwerk met die koringkorrel. Dit ontkiem, en bring ‘n nuwe plant voort. So is die lewe en sterwe en opstanding van die gelowige kind van God. In 2 Korinthiërs 4 gebruik Paulus nog ‘n ander voorbeeld. Aan ons kant van die graf is die mense-lewe soos ‘n tentwoning. As jy sterf word jou tentwoning afgeslaan, ingepak, en sorgvuldig weggebêre. Nadat Job met groot terugslae getref is, getuig hy – ‘Naak het ek uit my moeder se skoot gekom, en naak sal ek na die skoot van die aarde terugkeer. Die Here het gegee en die Here het geneem.’ En nou in Psalm 103 word hier ook ‘n beeld gebruik. Ons het dit saam gelees – ‘’n Mens, soos gras is sy lewensdae, soos ‘n veldblom, so bloei hy. As die wind oor hom waai, is hy nie meer daar nie en sy plek ken hom nie meer nie.’ (vers 15,16) En dan die troos wat daarmee saamkom. Teenoor die gebrokenheid en die hartseer realiteit, staan God se trou.
Ons rig ons aandag op God
Dawid sing hierdie Psalm op sy oudag. Teen die einde van sy lewe skryf hy hierdie pragtige lied. Dit hoor jy ook in die woorde hier. Hier is ‘n man aan die woord, wat ‘n diep belewing van God se genade ken. ‘n Man wat in sy lewe al soveel dinge meegemaak het. Soveel vreugde en soveel hartseer. En in alles kom hy tot die besef – as jy aan die Here behoort, dan het jy ‘n houvas ondanks wat op jou pad kom. God se liefde is allesomvattend en daarom roep hy ons op, om in alle omstandighede ons aandag op God te rig.
Ons onthou
Dawid herinner homself hieraan: ‘moenie enige van sy weldade vergeet nie’ En dan staan daar ‘n dubbelpunt. Vervolgens word ‘n klomp dinge beskryf wat sy lewe geraak het, en wat ons lewens vandag raak. Wat is hierdie weldade? Dit is nie soseer mooi of positiewe gebeurtenisse nie. Dit is ook nie ‘n ligrandjie na ‘n donker dag nie. Na die dubbelpunt word die diepte ingeduik: ‘Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al jou siektes genees, wat jou lewe vrykoop van die graf, jou kroon met troue liefde en ontferming.’
Ons kyk verder
Psalm 103 is ‘n lofsang oor die groot werke van Christus. In Hom is die Here se genade vir ons grenseloos. Ons Here Jesus Christus het Homself vir ons gegee. Hy herstel ons verhouding met Hom. Deur Hom word die verkeerde in ons lewens verwyder – so ver as die hemel bo die aarde is, so ver as wat die ooste van die weste verwyder is. Ons God is ‘n Vader wat Hom oor sy kinders ontferm.