Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word.
Vooraf: Lb. 348: 1 – 3 ‘Stille nag’; Lb. 358: 1 – 3 ‘Welkom, o stille nag van vrede’.
Skriflesing: Lukas 2:1-20 Teksvers: 7 Sing: Ps. 93:1,2,3,4; Sb. 4-4:1,4,5; Sb. 4-6; Ps. 118:12,13,14.
‘…en sy het geboorte geskenk aan haar eerste kind, ‘n seun. Sy het Hom in doeke toegedraai en in ‘n krip neergelê, omdat daar nie vir hulle plek in die herberg was nie.’
DIE PLEK VAN JESUS CHRISTUS
Geen plek vir Christus. Die herberg is vol. Die aardse ouers van Christus word die deur gewys. Hulle moet maar ‘n ruimte vind in ‘n stal of ‘n skuur. Aangrypend wat hier gesê word. Ons Redder is gebore en in ‘n krip neergelê, want daar was nie vir hulle plek nie. Dit moet nogal insink. Dit moet tot jou deurdring. Reeds hier hoor ons al die kern, die erns van die Christusfees. By die mens is daar nie plek vir Christus nie, maar by Hom is daar wel plek vir ons. Want Christus is tog gebore en so maak Hy plek vir Homself en ook vir jou en my.
Geen plek in die herberg
Ons Here Jesus Christus is in ‘n stal gebore en in ‘n krip neergelê. Dit is die boodskap vir die herders – “Dit sal vir julle die teken wees: Julle sal ‘n pasgebore kind vind wat in doeke toegedraai is en in ‘n krip lê.” Christus gebore in ‘n krip, want daar was nie elders plek nie. Deur die loop van die evangelie van Lukas keer hierdie tema ‘n paar keer terug. Vir Jesus is daar nie plek in sy geboortestad Nasaret nie – ‘Hulle het opgespring en Hom uit die dorp gedryf. En hulle het Hom geneem tot op die rand van die berg waarop hulle dorp gebou was, om Hom daar af te gooi.’ (Lukas 4:29) ‘n Vaste plek op die aarde was ook nie Jesus se doel nie. In Lukas 9:58 sê Hy – “Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die Mens het geen plek waar Hy sy kop kan neerlê nie.”
‘n Plek aan die kruis
In Lukas 23:33 wys die mensdom ‘vir Jesus Christus n plek aan – ‘Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar gekruisig – so ook die misdadigers, een aan sy regterhand en een aan sy linkerhand.’ Die krip en die kruis is uit dieselfde hout gesny. In die krip voor die skaapherders lê die goeie herder. Aan die kruis op Golgota hang die verlate vreemdeling. Dit is die plek wat die mensdom vir Hom gee.
‘n Plek aan die regterhand van die Vader
Jesus was ‘n vreemdeling op die aarde. Hy het die kruis opgegaan om vir ons plek te maak. In Johannes 14:2,3 hoor ons – ‘In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek voor te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek voorberei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.’ Sy plek is nou aan die regterhand van die Vader. Daar is Hy ons Koning en Voorspraak. Staan ons stil by sy geboorte dan bring dit ons tot dankbaarheid. Hy het mens geword om vir ons plek te maak in die ewige hemelkamers. Vir ons is die herberg nie vol nie, daar is plek deur die Kind wat gebore is in die stal.