JOHANNES 15:1-8
‘BLY IN MY, SOOS EK IN JULLE. NET SOOS DIE LOOT NIE UIT SY EIE VRUG KAN DRA AS DIT NIE IN DIE DRUIWESTOK BLY NIE, SO JULLE OOK NIE AS JULLE NIE IN MY BLY NIE.’
ONS EENHEID GEWORTEL IN CHRISTUS
Ons leef in ‘n samelewing wat in baie opsigte aan oppervlakkigheid en ongebondenheid ly. In die kerk is dit vir ons juis belangrik om verbinding te maak. Ons deel in die verbond van die Here. Dit behels dat ons aan Hom verbonde is en aan mekaar. Ons wil lewe in verbondenheid. Dit is in die kerk waar ons deur die Gees veg teen vervreemding en gebrek aan kommunikasie. Kyk jy na jouself dan besef jy dit is vir elkeen ‘n stryd. Ware kontak met mekaar, huweliksprobleme, geen kontak met familielede, geen verbinding met skepping nie. Dit is in hierdie lewe ‘n gegewe aanwesigheid. Hoe maak jy verbinding met mekaar? Wat is ware verbondenheid nou eintlik presies? Deur Johannes hoor ons die erns hiervan. Wees verbonde aan mekaar. Ons verbondenheid is aan die Vader en aan sy Seun Jesus Christus.
VERBIND AAN DIE VADER
God begin deur Homself aan ons te verbind. God is ‘n God van verbondenheid. Hy wil saam met ons in ‘n verhouding leef. Dit is Hy wat die verhouding begin het. Hy het vir Abraham en sy nakomelinge gekies om ‘n verbond te sluit. ‘Ek sal vir jou ‘n God wees en jy sal vir my ‘n volk wees.’ Die Vader verlang verbondenheid van ons.
VERBIND IN CHRISTUS
Johannes stel die tema verbondenheid duidelik aan die orde. By hom leer ons wat die kern van verbonde wees is. Johannes skryf oor dit wat hulle met hulle ore gehoor het, met hulle oë gesien het en met hulle hande aangeraak het. Johannes het saam met Jesus geleef en Hy weet dat die kern van verbondenheid in Hom is. Jesus wat gesê het – ‘Ek is die druiwestok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, hy dra baie vrug, want sonder My kan julle niks doen nie.’ (Johannes 15:5)
VERBIND AAN MEKAAR
Om aan mekaar verbonde te wees eis geestelike inset. Hoe doen jy dit? Groet mekaar. Reik uit na mekaar toe. Hou kontak, vandag is dit op soveel maniere moontlik. Gee jou oor aan die Woordverkondiging. Word verander deur die woorde van Christus. Voer geloofsgesprekke en bid vir mekaar.