Skip to content
Menu

Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word.

Skriflesing: 1 Samuel 16:1-13         Teksvers: 7        Sing: Ps. 150-1:1,2,3; Ps. 25-1:1,2; Ps. 134-1:4; Ps. 45-1:1,16; Sb. 8-1:1,2; Ps. 47-1:1,3,4.

‘Maar die Here het vir Samuel gesê: “Moenie na sy voorkoms en sy rysige gestalte kyk nie, want Ek het hom afgekeur. Dit gaan immers nie oor wat die mens sien nie, want: “Die mens kyk na wat hy sien, maar die Here kyk na die hart.”

DIE HART VAN ‘N KONING

Wat sê jy as jy geloofsbelydenis doen? Verklaar jy daarmee dat die Here in jou hart woon? Getuig jy dat jy in ‘n persoonlike verhouding saam met God leef? Dat jy jou ja-woord aan iemand gee wat jy nie kan sien nie, maar vir wie jy lief is? Dit is waaroor geloofsbelydenis gaan. Die Here het lewe in my hart gewerk. Ek is ‘n kind van God en ek belowe dat ek Hom altyd sal volg. ‘n Christen is iemand met die Here in sy hart. Dit gaan nie net oor ‘n gevoel wat jy ervaar nie, dit is ook die werklikheid. Paulus bid hieroor vir die gemeente van Efese. En dan sê hy vir hulle. Ek bid dat die Vader in julle sal werk deur sy Gees –  ‘sodat Christus deur die geloof in julle harte mag woon…’  In ‘n christen se hart leef die Here. Dit sien ons in 1 Samuel 16 by Dawid. Dit het ons gehoor is hier vandag bely.

Gekies deur die HERE

Voor Samuel staan daar sewe jong manne. Van hulle groot en sterk. Samuel is in Betlehem by Isaï. Die HERE het hom daarheen gestuur om ‘n nuwe koning te kies. Met ‘n horing vol olie is hy gereed vir die taak. By die aansien van Eliab, die oudste seun, is Samuel se keuse gemaak. Die HERE werk egter anders. Die HERE sê vir Samuel – ‘Moenie na sy voorkoms en sy rysige gestalte kyk nie, want Ek het hom afgekeur.’

Jou hart voor die HERE

Vervolgens sê die HERE dan – ‘Dit gaan immers nie oor wat die mens sien nie, want: Die mens kyk na wat hy sien, maar die HERE kyk na die hart.’ Die hart speel ‘n groot rol in die Bybel. Die hart is die hoofkwartier van die mens. Sy optrede word hieruit gelei. Uit iemand se optrede word duidelik wat in sy hart leef. Vir ons is dit bemoedigend en troosvol om te weet dat die HERE die Kenner van harte is. ‘n Kind van die Here se hart sal geken word aan sy voortdurende stryd teen die sonde.

Gesalf deur sy Gees

Vers 13 sê – ‘Die Gees van die HERE het van daardie dag af en ook verder van Dawid besit geneem.’ Wonderlik dat ons vandag hierin kan deel. Vanuit ons self is ons harte onrein. Deur die Gees is dit anders. Met Hom word ons gevul. Die Heilige Gees wat ons lei in wysheid, sagmoedigheid, nederigheid. Die Gees wat God se liefde ‘n realiteit in jou lewe maak.