Skip to content
Menu

Een van die hoeke waaruit ons na die lydingsgeskiedenis van die Here Jesus kan kyk, is dié van die Vader en Sy Seun.

Iets hiervan is afgebeeld in die geskiedenis van Jakob en sy seun Josef. Jakob het Josef spesiaal liefgehad, maar sy optrede en dié van Josef het veroorsaak dat Josef se broers hom gehaat het. Toe Jakob Josef ’n keer na hulle toe stuur, het hulle hom as slaaf verkoop. Toe hulle pa die vals doodsberig oor Josef kry, het hy in ’n ontroosbare hartseer versink. Eers baie jare daarna, toe Josef onderkoning van Egipte was, het Jakob die waarheid verneem en so vir Josef as’t ware uit die dood uit teruggekry.

Die Vader in die hemel het Sy enigste en ewige Seun volmaak lief. Toe Hy Hom aarde toe stuur om mense te verlos, het hulle hierdie Seun gehaat en werklik doodgemaak. Hy het egter uit die dood opgestaan en heers nou as Koning van alle konings vanuit die hemel.

Wat in die hemelse Vader se hart was toe Sy geliefde Seun hier op aarde onnoembare smarte gely het en gesterf het, kan ons ons nie eers begin indink nie. Ons kan maar net met grenslose blydskap leef oor wat hierdie wonderlike gebeure van die Vader en Sy Seun vir ons beteken…