Openbaring 20:7-21:8
‘Verder het Hy vir my gesê: “Dit is afgehandel! Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Dié wat dors is, sal Ek laat drink uit die fontein van lewegewende water – verniet!’
GEVOED MET LEWENDE WATER
Die Here maak aan Johannes bekend wat in die toekoms gaan gebeur. Hy wys vir Hom die nuwe stad waarin ons eendag sal woon. Die nuwe Jerusalem. Die belofte van hierdie stad gee die Here vir ons. Hy het dit vir ons laat opskryf sodat ons dit weet. In vers 5 sê die Here: ‘Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.’ Ons medegelowiges deur die eeue heen het vir die koms van hierdie stad gewag, soos ons vandag doen. Hebreërs 11:10 sê: Abraham het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is. Eindelik sal die volk van God by sy eindbestemming aankom. Ons sal die ewige Kanaän bereik. Dan sal die bitter, swaar stryd van die aardse woestynpad agter die rug wees. Want Hy wat op die troon sit sal dan sê: Kyk, Ek maak alles nuut.
Hy verwyder die kwaad
Voordat God alles nuut maak, maak Hy eers die aarde skoon. Die nuwe hemel en aarde word geken aan volmaaktheid. Daar sal geen sonde wees nie, geen pyn en hartseer nie. Maar – soos wat die situasie nou is, is dit alles behalwe volmaak. Die duiwel is die eerste wat verwyder word. Hoofstuk 20 beskryf dit uitvoerig. Die tweede wat ook weggevat sal word is die dood. Dan sien Johannes nog ‘n interessante ding. Dit is dat daar op die nuwe aarde nie ‘n see sal wees nie.
Hy kom by ons woon
As die eerste dinge verby is, kom God by ons woon. In die verlede het Jesus Christus mens geword en onder ons gewoon. Na sy Hemelvaart is die Heilige Gees uitgestort en het Hy onder ons gewoon. Hy woon vandag nog in ons as die gemeente van Jesus Christus. In die Nuwe Jerusalem sal die drie-Enige God in volmaaktheid onder ons woon.
Hy gee ons lewegewende water
Die Here gee vir ons uitsig. Hy gee vir ons krag om staande te bly deur hierdie belofte wat Hy vir ons geopenbaar het. Nou moet ons volhard. Ons moet besig wees met die dinge van die nuwe bedeling en die nuwe mens wat in ons weergebore is. Die Nuwe Jerusalem kom. Met die belofte voor oë leef ons vandag.