Titus is op Kreta agtergelaat met die opdrag om ‘n aantal dinge in orde te kry. Paulus bemoedig hom dan met hierdie ‘pastorale brief’, waarin hy eers die grondslag van die geloof lê: Die godsalige lewe voor God se aangesig.
Die res van die brief is in ‘n sekere sin daardie take wat Titus moet ‘regmaak’, maar heelbo aan die lysie is die aanstel van ouderlinge. Die kerk kan nie bestaan indien daar nie getroue, ywerige en godvresende ouderlinge is wat die gemeente lei nie. Dit is trouens hoekom Paulus telkens – op elke sendingreis en in elke gemeente wat hy gestig het, seker gemaak het dat daar manne van geloof is wat die jong kerk sal lei en op haar voete sal kry nie. In hierdie gedeelte van Titus leer ons hoedat die ouderlingamp noodsaaklik is, dat God manne uit die gemeente roep en toerus, dat hulle die wagters oor die kudde sal wees en dat hulle deur hul voorbeeld die gemeente na godsaligheid sal begelei. Ons leer ook wat God se vereistes vir sy ouderlinge is: dit omvat hulle huweliks-en gesinslewe, hulle karakter en ook hulle toewyding aan die Here. Maar die Here gee ouderlinge vir ‘n baie SPESIFIEKE en BAIE BESONDERE DOEL: Om die gemeente te vermaan en die teësprekers te weerlê. Ons word vandag dus oorweldig deur die wysheid en genade van God in sy ouderlinge.