Prediker: Ds. JL Lee | Kerk: GK Waterkloofrand | Datum: 23 Augustus 2026 om 09:00 | ▶ Kyk op YouTube
Jakobus herinner ons daaraan dat ware geloof nooit bloot ’n stel waarhede is wat ons glo nie. Die geloof wat God deur sy Woord in ons harte werk, verander ons lewens. God het ons deur die Woord van waarheid wederbaar; daarom moet die Woord ook sigbaar word in hoe ons leef.
Jakobus gee drie baie praktiese kenmerke van so ’n veranderde lewe: “gou om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word.” (Jak. 1:19). Dit begin by luister – veral om gewillig en aandagtig na die Woord van God te luister. Die Woord is nie bloot dooie letters nie; daarin hoor ons die stem van Christus wat ons harte aanspreek en verander.
Daarom moet ons onsself afvra: Hoeveel ruimte gee ek werklik aan God se Woord? Luister ek om gehoorsaam te word, of praat ek eerder as wat ek luister?
Jakobus waarsku verder teen ’n vinnige tong en ’n vinnige humeur. Woede wat in ons broei, voed bitterheid, wrok en selfbejammering, en “die toorn van ’n man bewerk nie die geregtigheid van God nie.” (Jak. 1:20). Die gelowige leer daarom om ’n heilige pouse te neem: wag, luister, dink en reageer volgens God se Woord eerder as volgens die eerste emosie wat opkom.
Uiteindelik roep Jakobus ons op om afstand te doen van alle vuiligheid en boosheid en die ingeplante Woord met sagmoedigheid te ontvang (Jak. 1:21). Ons trek die ou sondige lewe uit soos vuil klere en ontvang Christus se Woord met nederigheid en dankbaarheid.
Die Woord is nie ’n nuwe wet wat ons bloot veroordeel nie. Dit is die krag van Christus wat ons verander. Daarom: luister aandagtig, praat versigtig, wees stadig om kwaad te word en ontvang God se Woord met ’n sagte hart. Die Here wat sy Woord in ons geplant het, sal dit ook laat groei.
1. Wat beteken dit dat ’n lewende geloof “lewensveranderend” is? Hoe behoort jou geloof in Jesus sigbaar te wees in jou daaglikse lewe?
2. Jakobus sê ons moet “gou wees om te hoor, stadig om te praat”. Wat beteken dit prakties? Dink aan ’n situasie waar jy eerder wou praat as luister.
3. Waarom is dit verkeerd om vinnig kwaad te word? Wat gebeur wanneer ons toorn, woede en bitterheid toelaat om ons reaksies te beheer?
4. Jakobus sê ons moet die “ingeplante Woord” met sagmoedigheid ontvang. Wat beteken dit om God se Woord só te ontvang dat dit jou lewe verander?
Hoe kan jy hierdie week wys dat God se Woord besig is om jou te verander? Noem een konkrete ding wat jy anders kan doen wanneer jy met konflik, kritiek of frustrasie te doen kry.