Skip to content
Menu

Prediker: Prof. Albert Coetsee  |  Kerk: GK Waterkloofrand  |  Datum: 20 September 2026 om 09:00  |  ▶ Kyk op YouTube


Die Here leer ons in sy Woord dat ons geloof – ons verhouding met Hom – is nie iets wat ʼn deel van ons dag moet beslaan nie. Ons verhouding met Hom moet die kern van ons hele bestaan wees, en elke ander aspek van ons dag en week en maand en jaar, moet voortvloei vanuit ons verhouding met Hom. Dit hoor ons op verskeie plekke in die Skrif – onder andere in ons Skrifgedeelte vandag.

Wat ons soms dink die Here van ons verwag

In wese is Miga 6 in die vorm van ʼn hofsaak tussen die Here en Israel (v. 1-2). Die Here kla sy volk aan dat hulle Hóm daarvan beskuldig dat Hy hulle moeg gemaak het (v. 3). Daarom gee Hy hulle ʼn kort oorsig van wat Hy alles vir hulle gedoen het (v. 4-5), en dit lei Israel tot die

begeerte om te reageer op sy genade (v. 6-7). Die volk stel voor om na die Here te gaan met omvattende en kosbare offers – selfs misplaaste offers. Daarom antwoord die Here in vers 8:

Wat die Here werklik van ons verwag

Miga 6:8 is een van die treffendste verse in die Ou Testament. Die Here help sy volk wat so sukkel om te verstaan deur vir hulle ʼn opsomming te gee van wat Hy verwag. Drie dinge: om reg te doen teenoor ander; om reg te dink teenoor ander; om in ʼn nabye, intieme verhouding met Hom te lewe.

Dit help nie dat ons net ʼn klomp rituele doen nie. Dit waartoe die Here ons roep is om in ʼn intieme verhouding met Hom te lewe, en om ons naaste lief te hê. Die Here vra met ander woorde nie “iets” van ons nie; Hy verwag alles van ons!