Prediker: Ds. JL Lee | Kerk: GK Waterkloofrand | Datum: 1 November 2026 om 09:00 | ▶ Kyk op YouTube
Jakobus waarsku teen ‘n gevaar wat maklik in die kerk kan voorkom: om die Woord van God te hoor, maar nie daarvolgens te lewe nie. Dit is moontlik om gereeld onder die geklank van die Woord te kom, mooi na ‘n preek te luister en selfs daarmee saam te stem, maar dat dit geen werklike verandering in ons lewens teweegbring nie.
Daarom sê Jakobus: “En word daders van die Woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie…”
Hy beskryf eintlik twee maniere waarop mense op die Woord reageer:
Die eerste is die mens wat hoor, maar nie doen nie. Jakobus vergelyk so iemand met ‘n man wat in ‘n spieël kyk, sy gesig sien en dan weggaan sonder om iets aan sy voorkoms te verander. Die Woord is soos ‘n spieël wat ons harte ontbloot. Dit wys ons hoogmoed, bitterheid, eiegeregtigheid, woede en sondige gesindhede. Maar wat help dit ons as ons dit raaksien, en bloot aangaan of niks gebeur het nie?
Erger nog, soms probeer ons die spieël verdraai. Ons probeer die Woord so interpreteer dat dit by ons eie voorkeure en sondige optrede sal inpas. Dan wil ons nie meer hê dat die Woord ons moet verander nie; ons wil hê dat die Woord ons dade moet goedpraat.
Die tweede reaksie is dié van ‘n mens wat hom verdiep in die Woord en daarin bly. Hy luister nie bloot nie, maar buig voor die gesag van God en laat toe dat die Woord sy lewe rig. Dit beteken nie dat ons alles verstaan of reeds volmaak gehoorsaam is nie, dit beteken gewoon dat ons bereid is om voortdurend deur die Woord gevorm te word.
Dit is juis nie goeie werke wat ons rede nie, alleen genade, deur die geloof in Jesus is ons geregverdig. Maar die ware geloof bly nooit sonder vrug nie, en daarom verander die Heilige Gees ons hoe langer hoe meer sodat ons volgens die wil van God sal lewe.
Moet daarom nie by die spieël verbyloop nie. Moenie vergeet wat die Woord aan jou uitgewys het of probeer om dit wat uitgewys is, te verdraai nie. Buig voor die Here, bely jou sonde en staan dan op om te leef soos iemand wat aan die Here behoort.