Mattheus 7:24-29
‘Daarom sal elkeen wat na my woorde luister en daarvolgens handel, soos ‘n verstandige man wees wat sy huis op rots gebou het.’
‘n GESAGVOLLE WOORD VIR DIE MENS
Ons kom by die einde van die bergrede. In hierdie gedeelte hoor ons, dat Jesus sy redevoering voltooi. In hierdie preek gee Hy vir ons aanwysings hoe om saam en voor God hier op die aarde te leef. Aanwysing hoe om te lewe as ‘n kind van die Here. ‘n Burger van sy Koninkryk. Nou op die einde gebruik Hy ‘n beeld om ons hierop te wys. Hoe ons hier op die aarde ons koninkrykslewe leef. En dit doen Hy aan die hand van die bou van ‘n huis. As jy die beeld sommer net so gou voor oë kry. As jy iets gaan bou, dan het jy aanwysings nodig. Jy het ‘n bouplan nodig. Iemand wat wys is bly by daardie plan. So gebruik Jesus nou hier ‘n voorbeeld. ‘Daarom sal elkeen wat na my woorde luister en daarvolgens handel, soos ‘n verstandige man wees wat sy huis op ‘n rots gebou het.’ Hieroor gaan dit vandag. Jesus toon vir ons aan hoe ons moet leef. Die Bergrede is aanwysings hiervoor. Hoe ons hier op die aarde bouers van die Koninkryk van God kan wees. Die verstandige bly by die gesagvolle Woord.
Wat maak jy daarmee?
In die Bergrede is daar al heelwat deur Jesus gesê. Hierdie laaste weke het ons intensief daarby stilgestaan. Ons het die saligsprekinge gehoor. Gelukkig is hulle wat weet dat hulle God nodig het. Ook het ons Jesus se beskrywing van die wet gehoor. Hy wat kwaad word vir iemand anders is strafbaar. Hy wat na ‘n vrou kyk en haar begeer, het egbreuk gepleeg. En ook – ‘As iemand jou op jou regterwang klap, draai ook die ander een vir hom.’ Hy het soveel gesê oor liefdadigheid, gebed, oor die ware skat. Oor hoe ons met mekaar moet omgaan, nie moet oordeel nie. En dat ons deur die nou poort moet gaan. Nou aan die einde van hierdie preek, stel Jesus die vraag: wat gaan die mense hiermee maak? Wat gaan jy hiermee doen? Luister jy na dit wat Jesus sê?
Die verstandige luister
Die verstandige man bou sy huis op ‘n rots. Hy luister na Jesus se gebooie en handel ook daarvolgens. Die persoon wat op die smal pad stap, is verstandig, sy lewe is gefundeerd. Die fondasies is stewig en diep gelê. Dit is standvastig. Jesus waarsku dat daar abnormale omstandighede kan kom. Wie in die verborgene, waar God ons sien, sy lewe fundeer op die doen van Jesus se gebooie, die wil van sy Vader, is bestand teen vervolging (5:10-12) en valse profete (7:15-23).
Op ‘n Rots gebou
Toe Jesus sy redevoering voltooi het was die skare verstom oor sy lering. Tereg want Hy het hulle met gesag geleer. Vandag bevind ons onsself op Hom. Ons lewens word gelei deur ons Gids Jesus Christus. Ons bou volgens sy aanwysings. Ons volg met vreugde die gebooie van ons Here Jesus Christus.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com