Skip to content
Menu

Romeine 8:12-27
HK Sondag 45

‘So kom die Gees ons ook in ons swakheid tot hulp, want ons weet nie mooi waarvoor ons behoort te bid nie; maar die Gees tree self vir ons in met versugtinge wat nie verwoord kan word nie.’

GOD SELF ROEP JOU OP TOT GEBED

Moeg aan die einde van die dag, is baie keer die laaste ding wat jy doen, voor jy aan die slaap raak, om te bid. Jy vou jou hande, en jy bid – ‘Onse Vader wat in die hemele is’. Dit gebeur so gereeld en tog kan ons nie by die grootheid hiervan net verbygaan nie. Ons kan ons Vader aanroep. Gebed is aangrypend. Jy het kontak met die Allerhoogste, jy het verbondenheid met Hom. In ‘n lewe waar alles so relatief is, staan dit vas. Dit maak ‘n reuse verskil in die lewens van die kinders van die Here. Jou geloof mag jy so beleef. Jy mag met ons Vader praat. Vir Hom dinge vertel en vra. Maar die verbondenheid word nie altyd ervaar nie. Vir baie kinders van die Here is dit nie altyd maklik om te bid nie. Gou word dit in ons geloofslewens sigbaar. Voel gebed eenrigting. Daar is nie iemand wat konkreet antwoord nie. Ek kom nie agter dat iemand luister nie. Of as ek eerlik is, in teorie is God die belangrikste in my lewe, maar in my gedrag en tyd staan Hy nie bo aan nie.

Hy eis dit van jou

Gebed is vir ons nie ‘n keuse nie, dit is ‘n roeping. In die kategismus bely ons dit nog skerper: Gebed is ‘n bevel! Hoekom is gebed nodig? ‘Omdat dit die vernaamste deel van die dankbaarheid is wat God van ons eis.’ Gebed is noodsaaklik omdat God dankbaarheid van ons eis. Voor God het die mens dus ‘n plig om te praat. Sy aanspraak op ons vra ‘n reaksie.

Hy maak dit vir jou moontlik

In die Bybel staan dit duidelik: vanuit onsself sou geen mens ooit kon bid nie. Ware kontak met God, liefdevolle kommunikasie met die Here, dit is van nature vir die mens onmoontlik. Van nature is die mens geneig om los van God te staan. Maar die Here maak ruimte daarvoor in die lewe van sy kinders. Hy reik na ons uit deur sy Seun ons Here Jesus Christus. Van sy kant af maak Hy die kanaal oop en Hy begin die gesprek. Dit is Hy wat eerste praat. Sy Woord staan voorop, sy aanspraak. Dit is ‘n beloftewoord, ‘n aanbod van genade. ‘Ek is jou God, en jy is my kind. Ek het jou by die Naam geroep jy is Myne.’ God maak gebed moontlik.

Hy lei jou daarin

‘…want ons weet nie mooi waarvoor ons behoort te bid nie; maar die Gees tree self vir ons in met versugtinge wat nie verwoord kan word nie.’ Die Heilige Gees leer jou woorde om te bid. Deur die Woord van God maak die Gees dit vir jou duidelik hoe die kinders van God mag bid. Heelwat Psalms is lesse in gebed. Heelwat ander gebede is vir ons opgeteken. Ons Here Jesus Christus het self vir ons ‘n gebed geleer.

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com