Skriflesing: Genesis 44:14-45:5 Teksvers: Genesis 45:5 Sing: Ps. 147:1,2,3; Ps. 65:1,2; Ps. 133:1,2; Sb. 16-1:1,6,7; Ps. 23:3; Ps. 116; Ps. 149:1,2,3,4.
‘Maar moet julle nou nie ontstel en julleself verwyt omdat julle my verkoop het en ek hier beland het nie; want dit is vir die behoud van lewens dat God my voor julle uit gestuur het.
OP DIE PAD VAN VERSOENING
Versoening is nie so maklik nie. Versoening is nie iets wat sommer maar net so gebeur nie. Dit is ‘n groot uitdaging. Dit is nie vanselfsprekend dat dit gaan slaag nie. Soms is dit iets wat jy net vinnig agter die rug wil kry. Maar so werk dit eintlik nooit. Die is iets waardeur jy moet werk. Oor watter versoening gaan dit? Oor versoening tussen mense? Waar een die ander onreg aangedoen het? Die afstand moet oorbrug word – die verhouding herstel. Of gaan dit oor versoening met God? Waar die Here Jesus Christus sy lewe voor gegee het? Eintlik lê die twee soorte van versoening nogal naby aan mekaar. Jesus leer ons nie vir niks om te bid: Vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe nie. Die samehang kan soms ingewikkeld wees. Maar terselfdertyd is dit pragtig. Juis omdat jy in die versoening tussen mense soveel kan leer oor versoening met God. En omdat die versoening met God, deurstraal in hoe jy versoening met ander soek.
Versoening is konfronterend
Die deel wat ons saamgelees het, is ‘n konfronterende verhaal. Nie net vir die broers nie, maar ook vir ons. Iets in die optrede van die broers, herken ons ook by onsself. Om te lewe asof daar niks fout is nie. Om dit wat jy verkeerd gedoen het ver weg te stop en maak asof dit nooit gebeur het nie. Vir 22 jaar het die broers met die geheim wat hulle met Josef gemaak het rondgeloop. Nou word hulle gekonfronteer. Vandag word ons gekonfronteer deur die kruis.
Versoening is nodig
Ons hoor die woorde van Juda: ‘Wat kan ons vir my heer sê? Wat kan ons aanvoer? Hoe kan ons onsself regverdig? Dit is God wat die sondeskuld van u dienaars aan die lig gebring het.’ Dit is nodig dat daar na mekaar toe uitgereik word. Dit gebeur. Juda bely. Josef maak homself aan hulle bekend. Josef getuig dat die Here hom na Egipte gelei het om vir hulle ‘n plek gereed te maak.
Versoening is helend
Ons sien in die gedeelte hoe die broers verander het. Vandag word ons verander deur Jesus Christus en die werking van die Heilige Gees. ‘God bewys egter sy liefde vir ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.’ (Romeine 5:8) Versoen met God is daar verbondenheid tussen ons as broeders en susters in Christus. So mag ons aan die Nagmaalstafel kom sit.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com