Lees: Psalm 119:129-136 & Mattheus 16:21-28 Teksvers: Spreuke 19:12 Belydenis: HK Sondag 49 Sing: Ps. 19-1:1,4,7; Ps. 25-1:2,7; Ps. 86-1:6,8; Sb. 18-6:1,2,3,4,5.
‘Daar is baie planne in ‘n mens se hart, maar die raad van die Here – dít kom tot stand.’ (Spreuke 19:21)
DIE OORGAWE VAN ONS WIL AAN GOD SE WIL
Laat U wil geskied, soos in die hemel, net so ook op die aarde. Wat bedoel ons met die wil van God? Hierby kan ons dink aan sy leiding. God bestuur die wêreld soos wat Hy wil. Voorspoed en teenspoed kom uit sy hand. Alles gebeur volgens sy wil. Hulle wat die Here as hulle Vader in die hemel aanroep, erken dat Hy volledige leiding oor hulle lewens het. Oor watter wil van God gaan dit hier? Is dit ‘n bede vir hartlike gehoorsaamheid aan sy gebooie? Of vir ‘n gewillige onderwerping aan sy leiding en raad? Hierdie twee vrae loop eintlik hand aan hand. Christus leer ons om te vra dat ons van harte een is met wat God van ons wil. Dit is wat Hy openbaar volgens sy gebooie. En ook dat ons van harte eens is met wat Hy met ons wil. Dit wat duidelik word vanuit sy leiding in ons lewens. In beide opsigte verskil dit in die hemel en op die aarde.
Die verskil tussen hemel en aarde
Die hemel is soveel anders as die aarde. In die begin was alles op die aarde goed. In die paradys was dit hemels. Adam het wel verlang na ‘n hulp wat by hom pas, maar nie na die hemel nie. In die paradys het alles in vrede verloop. Volgens God se wil soos in die hemel. Vandag is dit anders. God doen nog altyd wat Hy wil. Sy wil geskied net so goed op die rebelse aarde, as wat dit by sy hemelse troon gebeur. Maar die manier waarop dit gebeur verskil hemelsbreed. Oor die verskil gaan die bede. Laat op die aarde nie net God se wil geskied nie, maar laat dit gebeur soos in die hemel.
Soos in die hemel, so ook op die aarde
Die hemel is nie ‘n plek waar die tyd stilstaan nie. Die engele word voortdurend voor nuwe uitdagings gestel. Die hemel is ‘n plek waar geskiedenis gemaak word. Nadat Jesus hierdie bede vir sy dissipels geleer het, het die situasie in die hemel drasties verander. Dit het gebeur met Jesus se hemelvaart. Toe is die duiwel uit die hemel gegooi. Vanaf toe is die ryk van God in die hemel volledig gevestig. Dit is ook goeie nuus op die aarde. God se Naam, koninkryk en wil kry op die aarde dieselfde erkenning, soos wat dit nou al in die hemel gebeur. Dit gebeur deur hulle wat hierdie bedes bid.
In ons lewens word dit sigbaar
Ons lewens is ‘n lewe aan God toegewy. Ons is hier besig – net soos die engele in die hemel – met ons taak en opdrag wat ons van God ontvang. Ons is diensknegte van ons Koning Jesus Christus. Ons verlange is dat ons wil telkens meer gelyk word aan sy wil.
Ds. Gerben Meijer