Skip to content
Menu

1 Korinthiërs 6:1-11

‘Weet julle nie dat onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërf nie?’

REGVERDIGES IN ‘N ONREGVERDIGE WÊRELD

‘Weet julle nie…’ Weet julle nie wat is reg en wat is verkeerd nie? Korinthiërs wat is bepalend in julle lewens? Die evangelie, die Woord? Hoekom laat julle dan julle sake meet met ‘n wêreldse kompas? In die eerste brief aan die Korinthiërs word die gemeente hard vermaan. Wêreldse waarhede vermeng hulle met die Bybel. Die vorige hoofstuk het gegaan oor ‘n klag teen sedelike gedrag. Daaroor het die kerk stilgebly. Nou gaan dit oor ‘n heel ander saak. Amper die teenoorgestelde. Die een (groot) saak smeer hulle toe. Die ander (kleiner) sake laat hulle deur die wêreld besleg. Dit gaan hier oor ‘n regsaak. Oor wat reg en verkeerd is. Wat is die waarde hiervan vir ons vandag? Die Here gee vir ons belangrike leiding in ons dankbaarheid lewe. Regsake is vir ons nie vreemde dinge nie. Baie van ons kom gereeld in die hof. Het baie met die reg van hierdie wêreld te doen. Vir baie van ons is dit nie altyd duidelik onder wie se gesag ons staan nie. Want wie besluit nou waaroor? Wie moet oor jou optrede oordeel? Hoe word geskille tussen mense opgelos? Is onreg ‘n kerklike saak wat deur ‘n kerkraad gehanteer moet word? Wanneer wel en wanneer nie? Wie het gesag oor jou lewe? Die kerk, die owerheid of beide?

Die praktyk in Korinthe

Paulus skryf in vers 1: ‘Hoe durf enigeen van julle wat ‘n klag teen ‘n ander het, dit deur die onregverdiges laat besleg en nie deur heiliges nie?’ In Korinthe was daar mense wat met mekaar baklei het.  Oor watter sake gaan dit hier? In vers 2 word daar van die nietigste regsake gepraat. Dit gaan dus oor klein onbenullige dinge. In vers 3 en 4 staan daar dat dit gaan oor alledaagse sake van die alledaagse lewe. Dit gaan waarskynlik oor onderlinge geskille en konflikte oor geld of eiendomme, oor die verdeling van ‘n erfenis, of rusies in families. Ons sal dit vandag siviele sake noem. Dit gaan verseker nie oor strafregtelike sake nie. Sake wat strafwaardig is moet die owerheid straf. As kerk kan ons sulke sake nooit onder die mat in vee nie. Daaroor gaan dit nie in Korinthe nie. Hier gaan dit oor onbenullige dinge waaroor hulle mekaar hof toe sleep.

Die reaksie van Paulus

‘Hoe durf enigeen van julle’  (vers 1) ‘Ek sê hierdie dinge om julle te beskaam.’ (vers 5) Dit is die apostel se eerste reaksie. Dit word gevolg met – ‘Of weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? As die wêreld dan deur julle geoordeel gaan word, is julle onbevoeg vir die nietigste regsake?’ Julle sal, as kinders van God, eers self geoordeel word. Maar as jy van Christus is, word jy vrygespreek en word jy daarna tot die hemelse regbank toegelaat. Dan om saam met Hom te oordeel.

Die voorbeeld van Christus

Ons leef in navolging van Christus. Met Hom voor oë weerklink die woorde uit 1 Petrus 3:8,9 – ‘Ten slotte: Wees almal eensgesind, meelewend, vol broederliefde, vol ontferming, nederig, mense wat nie kwaad met kwaad vergeld of skeldtaal met skeldtaal nie; maar, inteendeel, wees mense wat seën, omdat julle daartoe geroep is, sodat julle seën as erfdeel kan verkry.’