Jesaja 42:18-43:7
Romeine 14:1-12
HK Sondag 1
‘Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. As ons leef, leef ons immers vir die Here; en as ons sterf, sterf ons vir die Here. Of ons dan lewe of sterwe, ons behoort aan die Here.’
ONS BELYDENIS AS ANTWOORD OP DIE WERKE VAN DIE HERE
‘n Bekende vraag: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe. In die vraag gaan dit oor wat nou die belangrikste vir jou in hierdie lewe is. Ek dink as mens bietjie rondvra wat die belangrikste is, dan sal troos nie by almal as die belangrikste beskou word nie. Dan kan mens mooi verduidelik hoekom die woord hier gekies is. Hoekom dit ‘n diepgewortelde Bybelse keuse is, en dat ons vandag ‘n ander belewing van troos het as mense vroeër. Maar as ons vir ‘n oomblik dit omdraai: As troos nie die eerste is wat jy soek nie, wat is dan wel die belangrikste vir jou lewe? Dan kom daar ‘n hele rits woorde na vore: my enigste troos, my belangrikste vooruitsig, my bron van krag, my veilige houvas, my diepe vrede, my steunpilaar, my grootste doel, my redding, my ware geluk, my egte rykdom. As jy dit so hoor en moet sê wat die belangrikste is, gaan ons waarskynlik verskillende antwoorde gee. Dit hang ook af van hoe jy as persoon self in die lewe en die geloof staan. In die kategismus is nie die vraag nie, maar die antwoord die belangrikste. Tog kan die vraag nie gemis word nie. ‘n Vraag lei altyd na ‘n antwoord. En ‘n antwoord word ook eers werklik, as dit ‘n antwoord is op ‘n vraag van jouself. Eers as jy die vraag jou eie maak, word die antwoord ook joune. So staan ons vanaand voor hierdie vraag. Soek jy na ware rykdom? Na die doel van jou bestaan? Na houvas in hierdie wêreld? Na die troos in lewe en in sterwe? So luister ons vanaand na die kernagtige samevatting van die Christelike kerk, soos wat ons dit saam verwoord in ons kategismus.
God se onvoorstelbare liefde
Ons troos bestaan daaruit dat ons eiendom van Jesus Christus is. Ek behoort nie aan myself nie. Ek behoort nie aan jou nie, ek behoort nie aan iemand anders nie. In Romeine 14 sê Paulus die volgende: ‘Want as ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here; of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.’ Hierin word God se onvoorstelbare liefde aan ons geopenbaar.
God se bevrydende krag
Ons vind troos daarin dat God die Vader ons beskerm, dat daar sonder sy wil nie ‘n enkele haar vanaf jou kop sal val nie. Ons mag lewe in ‘n liefdevolle verhouding met ons Vader. ‘n Verhouding wat deur die dade van Jesus Christus herstel is. Hy het ons weer met ons Vader versoen. Ons mag antwoord dat ons vry is deur God se bevrydende krag.
God se beloofde nabyheid
Christus is ons troos. Van hierdie troos mag jy seker wees. Hierdie sekerheid word deur die Heilige Gees bewerk. Deur die Heilige Gees weet ons dat ons saam met God in ewigheid sal leef en dat ons nou al van harte bereid is om vir God te lewe. Juis in hierdie sekerheid word die troos vas. God is met ons.