Skip to content
Menu

Aktiveer hierdie skakel om regstreeks te kan inskakel

Lees: Job 1; 1 Korinthiërs 2:6-16     Belydenis: HK v&a 3;27,28        Teks: Job 1:21,22        Sing: Ps. 103:1,2,3; Sb. 9-4:1,2,3; Ps. 103:7,8; Ps. 103:9,11; Ps. 104:1,2,20,21.

‘Hy het gesê: “Naak het ek uit my moeder se skoot gekom, en naak sal ek na die skoot van die aarde terugkeer. Die Here het gegee en die Here het geneem. Mag die Naam van die Here geprys word!” Ondanks dit alles het Job nie gesondig nie en aan God niks ongerymds toegeskryf nie.’

In die doolhof van ellende, wys God ons die pad

Die gedeeltes wat ons gelees het, is mooi gedeeltes, maar ook moeilik. Nie omdat daar moeilike woorde gebruik word nie. Die woorde wat ons hier lees is redelik bekend. Dit gaan oor reën en droogte, oor eet en drink, gesondheid en siekte, lewe en dood. Elkeen weet wat dit is. Hierdie gedeeltes is nie moeilik, omdat die inhoud onduidelik is nie. Die lyn is duidelik. God as ‘n Vader sorg vir sy kinders en daarop mag jy gelowig vertrou. Die moeilike kom by die teenstrydighede in die lewe. Daar gebeur soveel dinge wat nie altyd ooreenkom met God se sorg nie. Dan kom daar ‘n hele rits vrae na vore. Vrae wat gebonde is aan die ellende in hierdie wêreld. Aan dit wat lyding veroorsaak. Ook in jou eie lewe. Van ernstige siekte, tot bakleiery in families. Van ‘n skielike afsterwe, tot dra van daaglikse pyn. Die ellende is in ons wêreld sigbaar. Die afskuwelike oorlog in Oekraine. Terroristiese aanvalle in Afrika. Hoekom gebeur dit? Hoekom laat God dit toe? Soms is dit vrae van die verstand. Maar meestal is dit vrae wat reg uit jou hart kom. Wat die lewe soms bitter swaar maak. Jy geloof beproef. Hoekom soveel hartseer? Hoekom ek? Is God daar? Hoe nou verder?

Christus as Kaart

Waaruit ken jy jou ellende? Uit die wet van God. Job getuig daar waar hy in die diepte gedompel is. Waar hy in die doolhof van ellende gestort is – ‘Die Here het gegee en die Here het geneem.’ Ondanks alles skryf hy niks ongerymds toe aan die Here nie. Jare later skryf Paulus aan die Korinthiërs – “Want wie het die gedagte van die Here geken, om vir Hom te kan voorskryf?” Wat ons betref, ons het die denkwyse van Christus. Die kaart van die doolhof is Jesus Christus. Hy vorm die geheim wat die raaisels van die menslike bestaan oorstyg. Hy is die sleutel om uit die gevangenis van ellende en lyding te kom. Deur Hom ken ons God as ons Vader. Sy lewe is die bloudruk van God se sorg.

Die Gees as Gids

In die doolhof van ellende is die Heilige Gees ons gids. Hy oorsien die geheel en lei ons persoonlik. Dit doen Hy nie deur God se raad vir jou opeens helder en duidelik te maak nie. Baie vrae in die lewe bly onbeantwoord. Soveel probleme word nie opgelos nie. Maar die Gees, wat in jou hart woon, lei jou by die hand deur dit alles heen. Dit doen Hy deur jou aan Jesus Christus te verbind. Hy werk met dié Woord.

Die Vader as Houvas

In teenspoed geduldig en in voorspoed dankbaar. So sien ons hoe die Vader ons houvas in die lewe is. Dit raak jou lewenshouding. Christelike geduld is ‘n lewenshouding. Dit is volhou in alle omstandighede. Dit is jou kruis opneem en dra. Dit beteken dat jy vashou aan die woorde van die Vader.