Dink ook ‘agtertoe’ om vertroos ‘vorentoe’ te dink
- Wanneer ‘agtertoe-dink’ op ‘vorentoe-dink’ van toepassing
- Die betekenis van ‘agtertoe-dink’
- Dink ook ‘agtertoe’ om vertroos ‘vorentoe’ te dink
Dit was vir Asaf, een met die bondsvolk in hulle volksnood, asof hy hom worstelend in ‘n doodlooppad (met die Here) bevind het. Die Psalmdigter is ontboesemend onder kwelvrae hieroor aan die woord: “In my nood soek ek hulp by die Here, maar ek vind geen troos nie” (77:3). Hiermee vertolk Asaf ‘n innerlike stryd wat die lewenspad van enige gelowige kan kruis.
Verse 12 en 13 is in ‘n “agtertoe-dink” ‘n keerpunt in die worstelstryd van Psalm 77. Peinsend is oor die dade van die Here in die verlede nagedink. Die Here het Hom laat ken in sy dade van mag en herderlike versorging: Hy het sy volk wonderbaarlik deur die Rietsee, en verder, gelei.
In Christus het die Here sy magtige verlossingsdade van vroeër beseël. In ‘n bepeinsing van God se wonderdade tot ons verlossing – soos in ‘n “agtertoe-dink wanneer jy jou platgeslaan asof in ‘n doodlooppad bevind – word onder die herinnerende werk van die Gees die weg gebaan om in vertroue op die Here in sy almag en herderlike versorging vertroos “vorentoe” te dink.