Skip to content
Menu

Lukas 24:44-53
Hebreërs 1:1-4
NGB Artikel 4

 ‘In die ou tyd het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar in hierdie eindtyd het Hy met ons gepraat deur sy Seun.’

DIE GESKREWE WOORD VAN GOD

Die sondige mens is soekende. Die mens geskape na die beeld van God, weet dat daar meer is. Hy besef dat daar iets groters is. Dat daar ’n God moet wees. Massas lei die duiwel op dwaalspore. Hulle soek en hulle kom op dwaalweë tereg. Danksy die genade van die Here, is daar sondige mense wat op die weg van saligheid geplaas word. Mense aan wie God Homself bekend maak deur sy Testament, sy Bybel. Mense wat deur God gered word. Wat deur die lewe saam met Hom wandel. Saam met Hom lewe. Dit is hulle wat soek en die waarheid vind. In die tyd na Jesus se Hemelvaart, het daar baie mense regoor die wêreld tot bekering gekom. Mense het gehoor van die Verlosser en hulle het in Hom geglo. Die Hebreërs was onder hulle. Maar in die Hebreërbrief gebeur daar dan ’n hartseer ding. Van hierdie mense wat in Jesus glo, het aan hulle geloof begin twyfel. Daarom praat die Here hard met hulle. Bevestig Hy vir hulle dat Jesus Christus sy Seun is. Meer as Christus is daar nie.

Die Ou Testament (vers 1,2)

In die Ou Testament het die Here met sy volk deur profete gepraat. Baiekeer en op baie maniere het God dit gedoen. Maar nou het dit verander. Die volheid van die tyd het aangebreek en die Profeet van die laaste dae het gekom. Hy wie se profesie sal geld tot die eindtyd toe. Dit is Jesus Christus. Na Hom sal die Here nie weer profete stuur nie. God sal deur Hom, sy Seun, met sy volk praat.

Die Nuwe Testament (vers 3a)

Jesus Christus is die ware priester. Hy dra die heerlikheid van die Here en Hy en God is een in wese. Die priesters in die Ou Testament kon nie ’n volmaakte offer bring nie. Hulle was self sondige mense gewees. Maar Jesus Christus, as ware God en mens, is sondeloos. Daarom – het Hy deur Homself die reiniging van ons sondes bewerk. Hy vervul die Ou verbond en maak die nuwe van krag.

Die ewige Testament (vers 3b,4)

Daarna het Hy opgevaar na die hemel en sit Hy aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte. Daar heers Hy oor sy koninkryk as Koning. Dit sal Hy doen tot in ewigheid. Daar waar ons bid, bid ons tot die lewend God wat op hierdie oomblik oor ons regeer. Jesus Christus is die enigste weg na die ewige lewe.