Skip to content
Menu

Klik hier om die regstreekse uitsending op video te kan volg.

Lees: Daniël 4:1-5;18-37     Teks: Daniël 4:37   Sing: Sb. 1-1:1,2,7; Ps. 86-1:1,6; Ps. 14-1:1,2,3; Ps. 147-1:1,2; Ps. 67-1:1,2,3.

“En ek, Nebukadnesar, besing en verheerlik en eer nou die Koning van die hemele, omdat al sy werke waarheid is en sy paaie reg, omdat Hy hulle wat met trots rondloop, kan verneder.”

HOOGMOED KOM TOT ‘N VAL

Wat is jou roeping op hierdie aarde en waarop vertrou jy? Op wie vertrou jy nou werklik? Wie sien jy as die groot Koning? Wie is die beskermer van die land en die kerk? Word jy bang en onseker as menslike sekerhede wegval? As jy sien dat ons getalle minder word? Op baie plekke word dit ervaar. Die platteland ontvolk. Massas gaan oorsee of trek stad toe. Word jy bang en onseker as die mag tussen ons vingers wegglip? As jy deur menslike mag nie meer die omstandighede kan beheer nie? Dit is gewoonlik die mens se reaksie. Maar vir hom wat die Here ken, is dit nie die geval nie. Menslike mag kan nie ons ewige lewe raak nie. Geen mens kan aan iemand anders die ware lewe gee nie. Dit sien ons in Daniel 4. In die droom van Nebukadneser word dit duidelik. Hy dink hy is die boom van die lewe. In sy hoogmoed roem hy daarop. Dan maak die Here baie duidelik dat dit nie so is nie. Al het Hy baie mag aan hierdie man toevertrou, kom alle eer altyd God toe. Hy is die Almagtige. Die enige wat lewe gee.

Die mag van Nebukadneser

Koning Nebukadneser is ‘n magtige man. In sy tweede angswekkende droom word dit baie duidelik. Hy sien homself as die boom van die lewe. Mense van alle volke en nasies kom soek skuiling en veiligheid by hom. Vol van homself het hy op ‘n dag gesê: Is dit nie die groot Babel wat ek opgebou het tot ‘n koninklike verblyf, deur die sterkte van my vermoë, en tot verheerliking van my majesteit nie? Hoogmoedig roem hy in homself.

Die Almag van die HERE

Wie eerste is sal laaste wees en wie laaste is eerste. In ‘n oogwink verander die Here hierdie magtige man se status – koning Nebukadneser, die koningskap word jou ontneem. Hy het soos ‘n dier in die veld geword. Hierdie man moet besef daar is net een wat lewe gee. Dit is net die Here wat daaroor beskik en geen mens nie. Daarom soek ons vandag ons skuiling by Jesus Christus. Hy wat sê: ‘Ek is die weg, die waarheid en die lewe.’

Gesprekspunte

  1. Wat is die verskil tussen om God te erken, en om reddende geloof in Hom te hê?
  2. Waarom laat die Here toe dat tye van groot beproewing oor ons kom en hoe beïnvloed daardie tye ons perspektief van wie Hy is en wie ons werklik is?