Skip to content
Menu

Handelinge 10:1-8
Handelinge 10: 34-48

‘Petrus was nog aan die woord, toe die Heilige Gees op almal wat na die toespraak luister, neerdaal…En hy het opdrag gegee dat hulle in die Naam van Jesus Christus gedoop word.’

DIE WERK VAN DIE GEES ONDER DIE GEKLANK VAN DIE WOORD

Die boek Handelinge is vol van die Heilige Gees. In Hoofstuk 10 sien ons die Gees aan die werk. In hierdie deel word dit duidelik dat die evangelie nie net vir die Jode is nie, maar ook vir die heidene. Die geskiedenis van Cornelius in Ceaserea bevestig dit. Dit het ons in vanoggend se gedeelte gelees. Petrus preek. Hy vertel vir ‘n groep mense die evangelie van Jesus Christus. Die gevolg: Terwyl hy nog preek, daal die Heilige Gees op hulle neer. Dit is in kontras met dit wat met Stefanus gebeur het. Toe Stefanus vir die Jode in Handelinge 7 preek, was die gevolg: woede en steniging. In Ceaserea loop dit anders. Toe Petrus die woorde in vers 43 sê  ‘Oor Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, deur sy Naam vergewing van sondes ontvang.’ toe gebeur daar iets besonders. Die Heilige Gees daal op hulle neer.

Petrus by Cornelius

Cornelius was ‘n belangrike man in die Romeinse weermag. ‘n Kaptein aangestel oor honderde soldate. Ook ‘n man wat besef het dat daar in die Romeinse godsdienste heelwat ontbreek. Hy het reeds daarvan wegbeweeg. Hy besef daar is meer. Die engel wat die Here stuur bevestig dit vir hom. Cornelius wil graag die evangelie hoor. Hiervoor stuur die Here vir Petrus na Ceaserea. Daar hoor ons Petrus aan die preek. Hy begin by dit wat die Here hom kort van tevore geleer het. God maak geen onderskeid tussen mense. Jesus Christus is die Redder vir mense van alle nasies. Dié Jesus verkondig Petrus in die huis van Cornelius. Petrus vertel hoe God Jesus van Nasaret met die Heilige Gees en met krag gesalf het. Dat vergewing deur Hom moontlik is.

Die Gees daal neer

Jesus is met die Gees gesalf om Christus te wees. Christus wat beteken gesalfde.  So ontvang ons as kinders van die Here ook die salwing. Die Gees daal neer. Daarin is ons profeet, priester en koning. Ons kan vrymoedig praat, toegewyd bid en kragtig stry. Ons ontvang vergewing en die Here woon in ons harte deur die Heilige Gees.  

Gedoop in die Naam van Jesus Christus

In Ceaserea is Cornelius en sy hele huis gedoop. Hoe ontvang ons vandag krag van die Here? Hoe leef ons deur die krag van die Gees? In die Woord gee die Here vir ons leiding. Deur onophoudelike gebed, deur ons te onderdompel met God se woorde. Die Gees daal neer tydens die prediking. Hierin gee die Here vir ons krag. Die krag van die evangelie vol van wysheid.