Skip to content
Menu

Johannes 13:1-20

‘As Ek, julle Here en Leermeester, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was.’

Gereinig deur die voetwassing van ons Here Jesus Christus

Die gedeelte wat ons saamgelees het in Johannes 13, het gebeur op die dag voordat Jesus gekruisig sou word. Dit was ’n bedrywige dag. Dié dag het Jesus Jerusalem op ’n donkie binnegekom. Die skare het Hom toegejuig: Hosanna in die hoogste! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here. Nou, aan die einde van die dag is Hy saam met sy dissipels bymekaar in ’n bovertrek. Hier kom hulle bymekaar om saam te eet. Hulle maak gereed om saam aan tafel te gaan sit. Soos wat hulle gaan sit, doen Jesus ’n besondere daad. Hy staan op, trek sy bokleed uit, Hy neem ’n doek en maak dit om Hom vas. Hy trek die kleed van ’n slaaf aan, neem ’n bad met water, en Hy was die voete van sy dissipels. ’n Taak wat Jesus in die samelewing nie mog doen nie. Hy was Heer en Meester. Hy was die Rabbi van die dissipels. Dit is nie sy taak om hulle voete te was nie. Dit sou beter gewees het as hulle sy voete gewas het. In hierdie besondere daad van Jesus openbaar Hy aan ons ’n waardevolle beeld van sy heilsweg. In die beeld van die voetwassing maak Hy aan ons twee gedagtes bekend. Twee gedagtes wat in die handeling van die voetwassing omvat word. Die eerste is die reiniging van ons sondes deur Christus, en die tweede is dienende nederigheid. Dit simboliseer die afwassing van die sonde waardeur iemand deel het aan die heerlikheid van Christus en dit is ’n voorbeeld van nederige diens. Die een is ’n daad as geestelike reiniging en die ander ’n daad as etiese voorbeeld.

Die voetwassing as teken van reiniging

Jesus openbaar hier dat ons voete deur Hom gewas moet word om deel te wees van Hom.  Wat Jesus hier openbaar is ’n noodsaaklike element van sy vernedering. Die was van voete was ’n vuil taak. Dit is die vuilste werk wat daar bestaan het. Vol van vuiligheid, sweet en stof. In die beeld maak Jesus bekend wat Hy die komende dae gaan doen. Hy verneder Homself sodat Hy ons kan reinig. Hy gaan Homself opoffer om ons lewens wat vervuil is van die sonde te reinig.

Die voetwassing as voorbeeld vir navolging

Soos Hy sy volgelinge in nederigheid gedien het, moet hulle ook mekaar in nederigheid dien. Dit is waaroor dit hier gaan. Ons hoef nie nou mekaar se voete gaan was nie. Die Here leer ons om hier die weg te volg wat Hy berei het. 1 Petrus 2:21 – ‘Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ’n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg.’  Dit is waaroor die  voetwassing gaan: gereinig om reinig te lewe. Dit beteken om diensbaar te lewe, om nederig te wees. ‘As Ek, julle Here en Leermeester, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was.’