Deur die Koning-van-bo kom daar tussen ander ryke ‘n waarheidsryk tot stand.
Tussen die aardse ryke kom ‘n ryk wat lyk of dit van geen betekenis is nie.
Pilatus doen net sy werk. Hy moet vasstel of dit wat in Judea gebeur, enige bedreiging vir die vrede binne die Romeinse ryk inhou. Wanneer hy Jesus dus ondervra, wil hy uitvind watter gevaar hierdie Man, Jesus Christus, in die verband inhou. Uit sy eerste reaksie wanneer hy Jesus sien, blyk dit dat hy nie gedink het dat hierdie man waaroor daar so groot ophef gemaak word, enige bedreiging inhou nie (let op die klem op jy in v. 33). Let ook op hoe hy vinnig in die ondervraging by Jesus wil weet wat Jesus “gedoen” het. Wanneer Jesus na sy (Jesus se) ryk verwys, wil Pilatus dadelik weet of Jesus dus erken dat Hy wat Jesus is, ‘n koning is. Allerlei konings in gebiede waar die Romeine regeer, is uiters negatief beoordeel.
Nadat Pilatus na Jesus geluister het, kom hy tot die gevolgtrekking dat hierdie Man en die ryk waarna verwys is, onskadelik is. Met een sin, “Wat is die waarheid?” wys hy hoe min hy van Jesus en van wat Jesus gesê het, dink en loop hy weg. In sy oë, in die oë van die wêreld, is die ryk waarvan Jesus praat van geen betekenis nie.
Hierdie ryk is in sy oorsprong anders as alle ander ryke.
Belangrike feite het egter by Pilatus verbygegaan. In besonder het hy nie gehoor wat Jesus sê van die oorsprong van die ryk nie. Hierdie ryk is, anders as enige ander ryk op aarde, nie van hierdie wêreld nie (v. 36). Jesus sê dus dat die oorsprong van die ryk in die hemele is. Dit kom van God! Pilatus het nie gehoor wat Jesus sê wat alreeds vanuit die hemel gebeur het nie. Die Koning van die ryk het “na die wêreld toe gekom.” Hiervan verstaan Pilatus niks en hy vra ook nie uit nie. Hy begryp dus ook nie wat dit beteken dat die Koning “gekom” het nie (v. 37). Omdat hy dit nie verstaan nie, stel hy nie belang wanneer Jesus sê dat hierdie Koning “gebore” is nie (v. 36). Van die wonder van Betlehem dra hy dus geen kennis nie.
Maar nie alleen dit wat in die verlede met betrekking tot die ryk gebeur het, gaan by Pilatus verby nie. Ook dit wat binnekort vanuit die hemel gaan gebeur – deur sy vonnis oor hierdie man gaan gebeur – begryp hy nie. Die Onskuldige sal nou skuldig bevind word en sal God se oordeel dra. Dit gebeur sodat skuldige mense vanuit die hemel onskuldiges verklaar kan word en so die ryk van Jesus Christus word.
Hierdie is ‘n waarheidsryk van ware betekenis.
Wanneer Jesus sê wat die doel is waarom Hy as Koning na die wêreld gekom het, is dit vir Pilatus die laaste strooi. Hy loop weg na die Jode wat buite ongeduldig wag. Hy stel nie belang in die “waarheid” waaroor Jesus kom getuienis aflê het nie. Die wêreld waarnatoe die Koning van die ryk gekom het, is vasgevang in die leuen. Wie God is, dat Hy die wêreld regeer, Wie sy Gesalfde is, hoe God deur sy Gesalfde redding sal bewerk, word deur die wêreld verwerp. Binne hierdie gevange wêreld bewerk die Koning deur die “waarheid” drastiese veranderings. Mense word uit die greep van die leuen losgeskeur. Hulle “bestaan is [dan] in die waarheid gegrond” (Dir. Vert.). Die belangrike eienskap van hierdie mense is dat hulle nie na die vader van die leuen (vgl. Joh. 8:44) luister nie. Hulle luister na die Koning van die ryk, Jesus Christus. Hulle gehoorsaam die Koning. Hulle lewe openbaar die waarheid van die Koning. Hulle verkondig ook die waarheid binne hierdie wêreld wat vasgevang is in die leuen en bring so die waarheid na ander wat steeds in die leuen vasgevang is.