Kolossense 3:1-4
Matteus 28:1-15
‘As julle dan saam met Christus opgewek is, streef na dit wat daarbo is, waar Christus aan die regterhand van God sit.’
JESUS CHRISTUS LEEF
Elke Sondag in die kerk vier ons die opstanding van Jesus Christus. Ons vier dit as ’n heilige dag. Op Sondagmôre het Jesus uit die dood opgestaan. Hoe dit gebeur het, is noukeurig opgeskryf. Op hierdie dag begin die verhoging van ons Here Jesus Christus. Gely, gekruisig, gesterf, begrawe en neergedaal het na die hel. Die neerdalende lyn van die Verlossing bereik ’n einde. Godverlate het Jesus Christus die dood oorwin. Hy het vir die sondes betaal. Die duiwel is uit die hemel neergewerp. Sy verlossingswerk bereik ’n klimaks. Nou begin sy verhoging. Die stryd is gestry. Die triomftog begin. Vanuit die dood staan Hy op. Die eerste stap. Dit is ’n groot stap. Dit gaan teen die gang van die natuur in. Iets wat dood is kan nie lewend word nie. Maar Jesus Christus staan op uit die dood. Die opstanding van Jesus Christus is die fondament van die Christelike geloof. Dit is die basis waarop ons vandag leef. Want deur sy opstanding baan Hy die pad vir ons oop. Deur die opstanding is daar vir ons weer lewe. Jesus Christus het opgestaan uit die dood. ’n Geskiedkundige feit. Dit het gebeur. Hierdie boodskap klink in die wêreld. Dit is breed verkondig. Die gemeente in Kolosse het dit gehoor. Die gedeelte wat ons saam gelees het. Vir hulle het dit alles verander. Iemand wat weet dat Jesus Christus opgestaan het, se blik op die lewe is anders. Jou oë gaan oop deur die geloof. Jy besef waaroor alles werklik gaan. Jy sien lewe waar dood was.
Die oorwinning
Jesus Christus se opstanding is ’n oorwinning oor die dood. Dit is ’n bewys dat die bande van die dood gebreek is en dat daar weer lewe moontlik is. Die Woord getuig van die opstanding. Die vier evangeliste skryf van die leë graf as bewys daarvan. Paulus beskryf dit ook in 1 Korinthiërs 15. Daar noem hy aan wie Jesus almal verskyn het na sy opstanding. Jesus Christus het met sy opstanding die dood oorwin.
Die nuwe lewe
Aan die begin het God net lewe geskep. In die paradys het Adam en Eva die ewige lewe gehad. Daar was nie dood nie. Hulle het liggaamlik en geestelik ten volle geleef. Sonder siekte, sonder einde. Deur die sondeval het dit verander. Toe het daar dood gekom. Hiervan red Jesus ons. Want deur Hom word die lewe weer herstel. Deur Hom kry ons nuwe lewe. Nie eendag nie, maar nou reeds hier op die aarde.
Die waarborg
Op die jongste dag as die basuine klink, sal alle grafte geopen word, en alle liggame sal opstaan. Dit verseker die opstanding van Jesus Christus vir ons. In heerlikheid sal ons saam met Hom leef tot in ewigheid. Die wonder van die opstanding is groot.