Skip to content
Menu

Christus keer dood en ontbinding om!

Dit By die sondeval het die Here belowe dat die duiwel, die vors van die dood, oorwin sal word. Deur sy genadeverbond het die Here aan sy volk oor eeue heen begin bekend maak wat die lewe, wat oor die dood sal triomfeer inhou. Dit is lewe, in liefdevolle gemeenskap met God, ’n lewe in liefdevolle gemeenskap met mekaar. Christus is beloof om die oorwinning oor die sonde en die dood te voltrek. In ons Skrifgedeelte sien ons dan hoe Jesus, selfs voor sy opstanding, sy mag oor die dood sigbaar maak.

Die ontmoeting van lewe en dood

Nain was ’n stad so effens Suid van Kapernaum. Christus is daarheen op pad, met sy dissipels en ’n hele skare agter Hom. Hy loop, as die Heer van lewe vooraan hierdie skare. Die skare het om Hom vergader as gevolg van die doodsontwykende wonders wat Hy gedoen het. Sy genesings het immers altyd die lewens van mense herstel. Dit het telkemale die dood op ’n afstand gehou. En dan hoor ons dat Christus eintlik nou verder gaan as om die dood weg te hou. Hy peil eintlik reg op die dood af. Die weduwee wat van voor af aankom het alles verloor. Die feit dat sy ’n weduwee is, die feit dat haar enigste seun gesterf het is ’n toonbeeld van die dood se verwoestende effek.

Christus se aanskouing van die dood se ontbinding

Christus aanskou die swaarkry van die weduwee. Hy aanskou die dood en die ontbinding wat daarmee gepaard gaan. Die innige band tussen moeder en seun, die gemeenskap waarin hulle met mekaar sou leef is immers deur die dood beëindig. Christus aanskou dit, en dit laat Hom nie koud nie. Hy kry die weduwee verskriklik jammer. Die woord wat gebruik word skep eintlik die idee dat sy ingewande ontroer word deur dit wat Hy sien. Christus openbaar in sy gesindheid teenoor die weduwee die hart van God die Vader. Die Vader staan immers ook nie koud teenoor die lyding wat die sonde en dood in die wêreld bring nie. Christus kry die weduwee innig jammer. Hy wil aan haar Goddelike barmhartigheid bewys.

Christus se omkeer van die dood se ontbinding

Christus loop nie by die doodsmarte verby nie. Hy bring dit tot stilstand. Hy raak die draagbaar waarop die seun lê aan sodat die draers kan stop. En dan gebied Hy lewe uit die dood. Christus, aangevuur deur sy innige medelye, het sy mag oor die dood bewys. Hy het oorwin. Meer nog, ons hoor verder: “en Hy het hom aan sy moeder teruggegee.” Christus het die dood se ontbinding tot niet gemaak. Die geweldige ontwrigting en verbreking wat die seun se dood in die lewe van sy moeder gebring het is deur Christus genees.