Skip to content
Menu

Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word.

Skriflesing: Esegiël 8      Teks: Esegiël 8:12     Sing: Sb. 1-2:1,2,3; Ps. 86:1,6; Ps. 135:9,10; Ps. 135:11; Ps. 84:1,2,3.

‘Hy sê toe vir my: Het jy gesien, mensekind, wat die oudstes van die huis van Israel besig is om te doen in die donker, elkeen in sy binnekamers vol afbeeldings? Want hulle sê, ‘Die Here sien ons nie; die Here het die land verlaat.’ 

IN DIE OË VAN DIE HERE

Hoekom doen mense wat hulle doen? Hoekom volg hulle ‘n landswet? Hoekom doen jy sonder God maar nie net wat jy wil nie? Ons wêreld is vol van morele verwarring. Sienings oor moraliteit is uiteenlopend. Mense besluit self wat reg en verkeerd is. Dit doen iemand meestal op basis van gesonde verstand. Die probleem is dat alle mense nie dieselfde dink nie. Nie almal se verstand is ewe gesond nie. Daarom is daar soveel verskille in die lewenstyle van mense. As daar een gemeenskaplike faktor is, is dit sekerlik dit: Elkeen het reg op sy siening. Daar is ‘n enorme drang dat die individuele keuse bewaar bly. Jy moenie iemand anders se manier van dink uit daag nie. Dit is in ieder geval intolerant, hoogmoedig en onverdraagsaam. Lewe en laat lewe. En omdat hierdie saak, hoe jy leef, goed of sleg, so ‘n diepgewortelde persoonlike individuele saak geword het, leef die meeste mense met die beginsel: Solank ek nie iemand anders te na kom nie. Solank my optrede nie die ander seer maak nie. Dan moet dit sekerlik tog reg wees? Hierby sluit Esegiël 8 aan. Dit is nie nuut nie. In Israel was dit blykbaar ook die beginsel. Die probleem – God word uit beeld gelaat. Die mense dink – ‘Die HERE sien ons nie; die HERE het die land verlaat.’

Die visioen – Het jy gesien, mensekind?

In ‘n visioen word Esegiël deur die Gees na Jerusalem geneem. Daar sien hy dat dit van kwaad tot erger gaan. Vier dinge laat die Here hom sien. En na dit vra die Here vir hom: Mensekind, sien jy wat doen hulle? En dan moet Esegiël ook ‘n aantal keer hoor – maar jy sal nog erger afstootlike dade sien.

Die afgodefabriek – Die Here sien ons nie

Esegiël sien vier gruwels in Jerusalem afspeel. Die hart van die mens is ‘n afgodefabriek. Hiermee word die toestand van Jerusalem aangetoon. Die eerste staan in verband met die koning en die volk. By die poort het hulle ‘n beeld opgerig (vers 5,6). Die tweede in verband met die oudstes. Hulle is besig met diere aanbidding (vers 7-12). Die derde staan in verband met die vrouens. Hulle treur vir Tammus (vers 13-15). Die vierde in verband met die Leviete en die priesters. Hulle is besig om die son te aanbid (vers 16-18). In alles dink hulle die Here sien hulle nie.

Die antwoord van die HERE – Ek sal nie na hulle luister nie

Die HERE se oordeel oor hulle is hard. Sonder Christus is die HERE se ore vir die mens gesluit.