Skip to content
Menu

Esegiël 13

‘Mensekind, profeteer teen die profete van Israel wat besig is om te profeteer. Sê vir die profete wat uit hulle eie harte praat, ‘Hoor die woord van die Here!’

HOUVAS IN ‘N TYD VAN FOPNUUS EN VERKIESING

Fopnuus – ‘n Boodskap van ‘n valse profeet. Die eerste keer hoor jy dit in die Paradys. Die slang wat na Adam en Eva kom. Die waarheid verdraai. Vir hulle verlei en in opstand teen die Here bring. Vandaar word ons die Bybel gereeld hiervoor gewaarsku. Skerp moet jy wees teenoor die stemme van mense. Want – hoe weet jy in hierdie wêreld waarin ons leef, wat is waar en wat is nie waar nie? Hoe herken jy fopnuus? Herken jy dit? Ons leef in ‘n tyd wat ons hiermee oorval word. Die internet het dit nogal drasties meer gemaak. Nie dat dit nuut is nie. Esegiël 13 plaas ons reeds in hierdie wêreld. Maar ons leef in ‘n wêreld, waarin jy heeltyd die inligting moet weeg. Is dit waar of is dit nie waar nie? En dit is nodig, want soveel valse inligting word versprei. Tussen feit en fopnuus moet jy onderskei.

Waar of vals?

In die tyd van Esegiël was die getal van die valse profete groot. Hulle het ‘n oorweldigende meerderheid gevorm. Manne soos Esegiël en Jeremia het eenvoudig in die massa verdwyn. Tussen al die geraas van die rumoerige stemme van valse profete, is die stemme van die Godsprofete stilgemaak. Kenmerkend van die valse profete, in die verlede en vandag ook, is dat hulle meestal van vrede praat, en voorspoed belowe. ‘n Oproep tot bekering word nie sommer gehoor nie.

God se Woord en die mens se hart

God se profete verkondig altyd sy Woord. Hulle verkondig dit wel met hulle harte, maar die boodskap kom nie uit die hart nie. Die boodskap kom van die Here. Die hart van die mens is altyd sondig. Daarom verkondig dienaars van die Here nie eie insigte nie, maar die Woord van God. Die valse profete en profetesse doen dit anders. Hulle word deur hulle eie sondige harte gelei. Met oortuiging probeer hulle hulle eie insigte rym met God se Woord. Gebruik hulle Bybelse terme, maar gee ander inhoud daaraan.

Jesus Christus – die waarheid

‘Verder, broers, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat lof verdien, ja, watter deug of watter prysenswaardige saak daar ook mag wees: rig julle gedagtes daarop.’ (Filippense 4:8) In Esegiël 13 hoor ons God se oordeel oor alles wat vals is. Hiermee gee toon Hy ‘n weg aan. Tussen al die valshede hoor ons die refrein – ‘Julle sal besef dat Ek die HERE is.’ In ‘n wêreld vol verwarring gee die Here sy Seun. Gee Hy uitkoms vir sy kinders. Gee Hy vir hulle die weg van waarheid en lewe. Dit is ons Here Jesus Christus self. Hy die Betroubare. Hy die Woord. Die maatstaf vir jou lewe. Leef in navolging van Hom.