Skip to content
Menu

Die diens kan hier regstreeks gevolg word.

Lees: Esegiël 15 & Johannes 15:1-8   Teks: Esegiël 15:6     Sing: Ps. 92-1:1,6,7; Sb. 12-3:1,2; Ps. 130-1:1,2; Ps. 130-1:1,2; Ps. 80-1:8,10; Sb. 14-2.

Daarom, so sê my Heer, die Here, ‘Soos die hout van die wingerdstok hoort by die hout van die bos wat Ek vir die vuur as brandhout gegee het, net so het Ek die inwoners van Jerusalem oorgegee.’

IN DIE WINGERDSTOK IS DAAR GEEN RUIMTE VIR NUTTELOOSHEID

In 1 Petrus 1:8 skryf die apostel – ‘Immers, wanneer julle oor hierdie eienskappe beskik, en daarin toeneem, sal dit daartoe lei dat julle nie nutteloos en sonder vrug is, wat julle kennis van ons Here Jesus Christus betref nie.’ Christene moenie nutteloos en sonder vrug wees nie. Oor die algemeen wil mense nie nutteloos wees nie. Dit is seker een van die laaste dinge wat jy wil hê wat iemand van jou dink of sê – Jy is nutteloos. Dit is nogal ‘n neerhalende term. Vanoggend het ons gehoor dat die Here dit oor sy volk sê. Hartseer dat die Here hulle nutteloos en onvrugbaar noem. Dit is die probleem wat die Here met sy volk in die boek Esegiël het. Hoofstuk 15-17 vorm ‘n nuwe onderdeel. Met drie beelde word hierdie probleem aangespreek en gestel wat daaromtrent gedoen moet word. Die eerste probleem in Esegiël 15 is om nutteloos te wees voor God. In hierdie tyd van voorbereiding spreek die Here ons met hierdie deel ook aan. Dit is belangrik om na jou eie lewe te kyk en ondersoek in te stel. Om te kyk waar daar dooie takke in jou eie lewe is. Waar jy geestelik nie vrug dra nie. Waar daar gesnoei moet word, sodat jy meer vrug kan dra.

Die beeld van die wingerdstok

‘Mensekind, wat gebeur met die hout van die wingerdstok anders as wat met al die ander hout gebeur, met die takke wat aan die bome van die bos was?’ Nogal ‘n ontnugterende vraag. Wat is nou so besonder aan die hout van ‘n wingerdstok? Is dit anders as die ander bome van die veld? Waaroor dit hier gaan is dat die hout van ‘n wingerdstok niks voorstel nie. Dit kan nie gebruik word vir iets anders nie. Jy kan nie daarvan meubels maak nie, daarvoor is dit te krom. Dit gaan dus nie oor die hout van die wingerdstok nie, maar oor die vrug wat dit dra. As dit nie vrug dra nie is dit nie meer bruikbaar nie. Met die wingerdstok wys die Here na sy volk (Psalm 80, Jesaja 5). God het sy volk uit Egipte gaan haal en in Kanaän geplant. So sou God se trou, reg en liefde in die wêreld straal. Dit was die doel. Die vrugte aan die boom moes getuig van God se keuse vir sy volk.

Die opdrag om vrug te dra

Ons Here Jesus sluit aan by die beeldspraak wat in Esegiël 15 gebruik word. Die wingerdstok met lote wat vrugte moet dra en ander lote wat in die vuur gegooi word. In Johannes 15 herhaal Jesus nie die deel uit Esegiël 15 nie. Nog sterker en belangriker: Hy maak duidelik dat dit Hy is. Hy sê – ‘Ek is die egte druiwestok en my Vader is die landbouer.’ Hier praat Jesus met sy dissipels. Hulle hoor – die dooie lote word afgesny en verbrand. Die opdrag is om vrug te dra.

Lote aan die egte druiwestok

‘Ek is die druiwestok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, hy dra baie vrug, want sonder My kan julle niks doen nie.’ Geplant in Christus vloei die genade van die Here ons lewe binne. Deur sy werke mag ons in Hom wees. Bly Hy met sy Gees in ons en mag ons in oorvloed vrug dra.