Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word.
Lees: Esegiël 24:15-24
Teks: Esegiël 24:18,24
Sing: Ps. 30-1:1,3,8; Ps. 86-1:1,6; Ps. 42-1:2,4; Ps. 116-1:5; Ps. 72-1:1,10,11.
‘Ek het die oggend met die mense gepraat, en die aand het my vrou gesterf. Ek het die volgende oggend toe gedoen soos ek beveel is…Esegiël sal vir julle ‘n teken wees: Net soos hy gedoen het, moet julle doen. Wanneer dit gebeur, sal julle besef dat Ek, die Heer, die HERE is.’
ESEGIËL, AS WEWENAAR MET DROË OË, ‘N TEKEN VIR DIE KERK
Waar is die kerk? In Esegiël se tyd was dit die groot vraag. ‘n Belangrike vraag, want heelwat het verander. Vroeër was dit maklik om die vraag te antwoord. Die kerk van die Here is in Jerusalem. Op soveel plekke in die Ou Testament staan dit. Vir eeue lank het God die kerk van die verbond sentraal vergader. Jerusalem met die tempel is as plek daarvoor afgesonder. In Psalm 68 sing Dawid hiervan – ‘Waarom kyk julle afgunstig, o berge met toppe, na die berg wat God begeer het vir sy woning? Ja, die HERE sal daar woon tot in ewigheid.’ Vir baie jare is dit by die volk ingeskerp. Volgens God se instelling is dit Jerusalem. Verkeerdelik roem die inwoners van Jerusalem hierop in die tyd van Esegiël. Hulle kreet – ‘Die Here se tempel, die Here se tempel, die Here se tempel is dit!’ (Jeremia 7:4) Nou openbaar die Here aan Esegiël dat dit gaan verander. Jerusalem gaan vernietig word. Dit wat vir hulle kosbaar is gaan verwoes word, maar dit sal nie die einde wees nie. Die kerk van die Here is daar waar mense se harte vol van geloof, hoop en liefde is. Die skielike afsterwe van Esegiël se vrou sal teken wees hiervan.
Die tyd van die teken
In vers 18 staan daar – ‘Ek het die oggend met die mense gepraat, en die aand het my vrou gesterf.’ Die oggend het Esegiël vir die mense vertel dat die einde van Jerusalem naby is. Die oordeel kom. Dit staan in die vorige hoofstukke. Aan die einde van die dag gebeur ‘n verskriklike ding. Esegiël se vrou, wat vir hom baie kosbaar is, sterf in ballingskap. Die dag is ‘n belangrike dag. Op die dag word die profeet ‘n teken vir die volk. ‘n Teken vir die kerk van die Here.
Die vorm van die teken
Op watter manier moet die profeet ‘n teken vir die kerk wees? Dit staan in die tweede deel van vers 18 – ‘Ek het die volgende oggend toe gedoen soos ek beveel is.’ Die opdrag vir Esegiël is dat hy nie mag rou nie. Die gebruiklike begrafnis rituele moenie gevolg word nie. So is die begrafnis van Esegiël se vrou ‘n vreemde aangeleentheid. Vir die mense onvanpas. Maar die Here sê – vandag moet dit so gebeur.
Die betekenis van die teken
Stom verbaas sien die ballinge, hoe die profeet Esegiël nie oor sy geliefde vrou rou nie. Hoekom moet dit so wees? Die Here sê dat Esegiël op die manier ‘n teken sal wees. ‘n Wonderteken. Soos wat hy doen, moet almal later doen. As die kosbare tempel verwoes word, moet daar nie getreur word nie. Want wat volg daarop? Vanuit die verdrukking sal die Messias kom. As die ballingskap verby is, kom die nuwe kerk met die nuwe verbond.