Skip to content
Menu

Genesis 11:1-9

‘Die hele aarde het een taal gehad en dieselfde woorde… Daarom word dit Babel genoem, want daar het die Here die taal van die hele aarde verwar. Daarvandaan het die Here hulle oor die hele aarde versprei.’

Kerk in die stad [Babel]

Die stad Babel is nie die eerste stad wat in die Bybel genoem word nie. Kaïn het vantevore ook al ‘n stad gebou. Direk nadat hy uit die teenwoordigheid van God vertrek, rig hy die stad Henog op – ‘Kain het met sy vrou gemeenskap gehad; sy het swanger geword en aan Henog geboorte gegee. Kain was toe besig om ‘n stad te bou, en hy het die stad na sy seun Henog vernoem.’ (Genesis 4:17) Na die sondeval blyk dit dat mense veral in stede gaan woon het. (Genesis 10:10-12) Rondom die bou van Babel word dit duidelik wat mense wil bereik met hulle stede: mag en selfstandigheid. Die gedeelte wat ons saamgelees het bring twee gedagtes na vore. Die mense wat sê: ‘Kom ons bou vir ons ‘n stad…’ (vers 4) En die Here wat sê: ‘Kom, laat Ons afgaan en hulle taal daar verwar…’ (vers 7) Vandag leef ons in ‘n stad Pretoria. Wat is ons boodskap vir hierdie stad? Het ons ‘n boodskap vir die stad? Hier waar ons plaaslik vergader is as die kerk van Jesus Christus. In Spreuke 11:11 staan daar – ‘Deur die seën van die opregtes kom ‘n stad op, maar deur die mond van die goddelose word dit afgebreek.’

’n Stad met ’n doel

In Genesis 11 hoor ons hoe die nageslag van Noag op die aarde vermeerder. Al vinnig maak hulle tegnologiese vooruitgang. Van gebakte klei maak hulle boustene. Hulle maak vir hulle huise en ’n stad in Sinear. Ook wil hulle ’n groot toring bou. Daardeur wil hulle vir hulle naam maak. Hulle wil al die mense daar bymekaar hou.

Gesien vanuit die hemel

Dit maak nie saak hoe hoog die mens bou nie, die Here moet nogsteeds neerdaal om sy nietigheid te aanskou. Die nuwe mensdom verval weer in die sonde. God sien dit raak. Hy sien dat hulle die wêreld tot hulle eie eer gebruik en nie tot syne nie. Ook – hulle luister nie na sy bevel dat hulle die hele aarde moet bewoon nie.

Versprei oor die aarde

Daarom dryf die Here hulle uitmekaar. Dit doen Hy deur ’n taalwonder. Jare later is daar weer ’n taalwonder. Dit op Pinksterdag. Met die uitstorting van die Heilige Gees word die evangelie verkondig. Al die mense daar hoor die boodskap in hulle eie taal. Die evangelie van Jesus Christus word verkondig aan alle nasies en volke. Die Woord verenig mense van alle volke en tale.