God se werk in die stryd van die kerk
In ons Skrifgedeelte staan die vroeë kerk voor talle uitdagings. Petrus en Johannes het kort voor hierdie gebeure ’n kreupel man in die Naam van Christus genees. Hulle het by daardie geleentheid ook die opstanding van Christus verkondig. As gevolg daarvan het hulle voor die dreigemente van die Joodse raad te staan gekom. Alhoewel die Joodse Raad by hierdie geleentheid nie by magte was om aanklagtes teen die apostels te maak nie, was daar moeilike tye vir die kerk op die horison. Die Jode het met hulle dreigemente probeer om die vrymoedigheid van die kerk te blus. Toe die apostels egter by die gemeente terugkom, toe bid hulle onverskrokke Psalm 2.
Die aardskudding van die Almagtige
Die Vader beantwoord die gebed van die kerk. Hy wys sy teenwoordigheid deur die plek waar hulle bymekaar is te skud. Die verhoring van die gebed is aardskuddend, want die implikasies van die kerk se gebed is aardskuddend. Die Jode het ook Psalm 2 gesing. Hulle was oortuig dat die implikasies van die Psalm op hulle van toepassing is. Die kerk weet egter dat die opstand van die Jode teen die Here en teen sy ware Gesalfde, Jesus Christus, is. Die kerk erken in hulle gebed dat dit Hy is wat al sy teëstand sal verpletter met ’n ysterstaf. Hulle kan dit sing, want hulle kan getuig dat Hy oor die opstand teen Hom by sy kruisiging getriomfeer het. Hy het immers opgestaan uit die dood wat die nasies vir Hom bedink het. Aardskuddende gebed met ’n aardskudding as verhoring.
Die Geesvervulling van die Heilige
Die Here se antwoord hou egter nie by die aardskudding op nie. Die gemeente word vervul met die Heilige Gees. Dit beteken hulle kom onder die heerskappy, leiding en invloed van die Gees. Hulle word dus deur die werk van die Gees onderwerp aan die verheerlikte Christus waaroor hulle sopas in Psalm 2 gebid het. Vir die kerk om met vrymoedigheid haar stryd op die aarde te stry, is dit nodig dat sy haar deur die Gees onderwerp aan die verheerlikte Oorwinnaar. Dit is immers Hy wat die dood oorwin het. Dit is ook Hy wat die raad van God uitvoer. Daarom word gelowiges telkens beveel om deur die Heilige Gees vervul te word. Onder sy heerskappy en invloed sal ons die opgestane Christus leer ken. Onder sy leiding sal ons die goeie stryd kan stry.
Die vrymoedigheid van die versterktes
Die kerk kry uiteindelik die vrymoedigheid waarvoor sy gebid het. Deur die krag van die Heilige Gees is sy versterk en dapper om die Woord van die Here te verkondig. Die Here het gewys dat die inhoud van Psalm 2 op die kerk betrekking het, nie op die ongelowige Jode wat haar probeer teëwerk nie. Dit is ook rede vir ons om met vrymoedigheid vandag te getuig. Psalm 2 het op ons betrekking. God is in sy Gesalfde met ons. Ons teëstand sal nie standhou nie.