Posted by Admin

Rut 2
HK Sondag 10

‘Mag jy vir alles wat jy gedoen het, ruim vergoed word deur die Here, die God van Israel, onder wie se vleuels jy kom skuil het.’

DIE VOORSIENIGHEID VAN GOD

Rut en Naomi staan voor ’n probleem. Hulle is terug in Israel. Maar hoe gaan hulle leef. Waarvan? In Moab was daar vir hulle voorsien. Maar nou in Israel nie. Daar is nie ’n man wat kan werk nie. Daar is vir hulle nie ’n inkomste om van te leef nie. Rut en Naomi sal self ’n plan moet maak. Die Here lei dit so dat hulle daar aankom in die tyd van die gars oes. God het voorsien dat daar in dié tyd kos was vir die arm mense. Vir die vreemdelinge wat nie ’n inkome gehad het nie. Kos word nie vir Rut en Naomi by die huis afgelaai nie. Rut moet hard daarvoor werk. Dit het sy gedoen, sy was fluks en ywerig. ’n Nuwe begin vir haar lewe. ’n Nuwe land, ’n nuwe godsdiens, ’n nuwe manier van lewe. Haar verlede los sy radikaal agter. Met volle sekerheid stap sy die pad van geloof. Saam met haar skoonma, leef sy in die beloofde land van God. In hierdie hoofstuk sien ons hoe God voorsien. Hoe Hy sorg. Liggaamlik en geestelik. Hoe Hy sy raadsplan uitvoer. Vir die gelowige is daar nie toeval nie. Niks wat hier gebeur is toevallig nie. Ook in ons lewens as christene bestaan daar nie toeval nie.

God voorsien in die hede

Rut en Naomi staan voor ’n probleem. Hulle is terug in Israel. Maar hoe gaan hulle leef? Die Here sorg vir die arme en die vreemdelinge. Hulle mag are optel op die geoeste lande. Rut gaan werk op die grond van Boas. Dit is hoe die Here dit bestem. Deur die genade van die Here deur Boas, word Rut hier ryklik geseën. Die Here voorsien mildelik in hulle daaglikse behoeftes.

God voorsien vir die toekoms

Boas is uit die nageslag van Elimeleg. Hy is een van die nabestaandes van Naomi en dus ook van Rut. Volgens die wet van die losser sou Boas met Rut mog trou. Dit is die plan wat Naomi in haar kop het. Maar op ’n besondere manier is God hier besig met sy raadsplan. Hy lei Boas, die seun van Ragab, en Rut, die Moabitiese vreemdeling, na mekaar toe. Uit hulle moet die Verlosser Jesus Christus gebore word. Die volk van God bestaan nie uit een groep mense nie, maar uit almal wat deur God uitverkies is.