Skip to content
Menu

Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word

Skrif: Rigters 15:1-20        Fokus-vers: 18        Sing: Ps. 107:2,6,13; Ps. 61:1,2,4; Ps. 142:1,2,5; Ps. 19:1,5,7.

Tussen Kakebeenhoogte en Roepersfontein

Die Here bring alle hoogmoed tot ’n val. Dit sou Simson leer in ons Skrifgedeelte. Die Here het vir Simson as rigter vir sy volk aangewys. Simson moes in alles aan die Here gewy leef. Maar deur sy eie ongehoorsaamheid het die Here steeds vir sy volk verlossing van hulle vyande bewerk. Simson het groot skade aan die Filistyne se koringoes aangerig. Hulle wou hom uit die aard van die saak doodmaak. Die Israeliete was so bang vir die Filistyne dat hulle sommer vir Simson vasgebind het en hom aan hulle vyande oorgegee. Maar die Heilige Gees het egter in hierdie omstandighede kragtig op Simson beslag geneem.  

Kakebeenhoogte

Soos wat die Filistyne storm om vir Simson in die hande te kry smelt die toue waarmee hy vasgebind was as’t ware weg. Hy gryp ’n donkie se kakebeen wat daar naby lê. Deur die krag van die Heilige Gees slaan Simson duisend Filistyne dood. Dit is inderdaad ’n geweldige wonder! Een man teen ’n oormag. Trouens, dis vir alle praktiese doeleindes ’n ongewapende man teen ’n oormag. So raak dit in die Ou Testament reeds duidelik dat ons nie klein moet dink van die Heilige Gees se krag nie. Maar Simson vergeet dadelik deur wie se krag hy optree. Hy vernoem die plek van sy oorwinning na sy doodswapen. Dit gaan oor hom en die kakebeen. Hy en ’n dooie ding het ter wille van die Here se volk die oorwinning behaal.

Roepersfontein

Die Here verneder vir Simson in sy hoogmoed deur ’n groot dors oor hom te bring. Hierdie dors is so groot dat Simson ewe skielik voel hy staan op die rand van die dood. Die man wat eenduisend verslaan het, kan nou weens sy liggaamlike nood feitlik nie verder leef nie. Dan kom sy erkenning. Hy besef hoe klein hy eintlik is. Hy besef dat dit nie gaan oor hom en die eselskakebeen nie. Dan roep hy die Here aan. Hy erken dat dit God is wat die verlossing geskenk het. Dan doen God ’n wonder sonder Simson se toedoen. Hy open ’n fontein. Kakebeenhoogte se naam verander na Roepersfontein. Roem in menslike prestasie verander na roem in die Here. Hy het die een wat Hom aangeroep het uit sy benoudheid en nood verlos. God is immers barmhartig. Hy hoor die roepstem van hulle wat benoud is. Hy hoor dit gunstig aan ter wille van Jesus Christus. Maar hy neem geen hoogmoed aan nie. Die verlossing in Christus, wat verlossing uit ons diepste nood is, laat immers geen ruimte vir ons eie roem nie. Dit laat geen ruimte vir ons eie Kakebeenhoogte nie. Leef daarom in nederige verootmoediging voor die Here. Hy slaan ag op die roepstem van die ootmoediges, maar Hy weerstaan die hoogmoediges