Skip to content
Menu

ROMEINE 1:18-25, ROMEINE 3:21-26

‘HIERDIE GEREGTIGHEID GEE GOD DEUR DIE GELOOF IN JESUS CHRISTUS AAN ALMAL WAT GLO…EN TOG WORD HULLE GOEDGUNSTIG OP GROND VAN SY GENADE VRYGESPREEK DEUR DIE BEVRYDING IN CHRISTUS JESUS.’

AAN GOD ALLEEN ALLE EER (SOLI DEO GLORIA)

Vandag mag ons die hervorming vier. Dit wat nou al meer as 500 jaar gelede in Europa plaasgevind het. Op ‘n aangrypende manier het die Here in die geskiedenis van die mensdom ingegryp. Die effek van die reformasie was groot. Die kerk in die hele wêreld het verander. Die reformasie het ook deurgewerk in politiek, samelewing en kultuur. Tot vandag toe deel ons in die vrugte daarvan. Een van die belangrikste vrugte van die Reformasie, is dat God weer sentraal staan. Mense het begin dink: Wie is God? Hoe gaan Hy met mense om? Hoe kan ‘n mens gered word van sy ellende? Hoe kan die groot kloof tussen God en mens oorbrug word? Hoe kan jy van die angs vir God se oordeel vrykom? Hoe kan jy sekerheid kry van die ewige lewe? ‘n Aantal vrae wat beklemtoon is. En hulle het antwoorde hierop gekry. Deur die Woord oop te maak, het hulle opnuut die Bybelse waarhede ontdek. Oor God en mense, oor die waarheid van genade en geloof. Dit is twee van die stralende kernwoorde. Deur genade alleen. Deur geloof alleen. Sola gratia en sola fide. Daar is redding slegs deur genade, omdat geen mens sonder God kan leef nie. Elkeen is skuldig. En die Here gee uitkoms. Hy gee sy Seun. Hy gee redding deur geloof in Hom.

DEUR GENADE GERED VAN BUITE (SOLA GRATIA)

Gee God mense ‘n eerlike kans? Die vraag antwoord die Here in Romeine 1. Eintlik is dit ‘n vreemde vraag. Geen mens het eintlik meer ‘n kans nie. Niemand het reg op redding nie. Inteendeel, dit is die mens se eie skuld dat hy in die situasie is waarin hy homself bevind. God openbaar Hom aan alle mense in die skepping en dit staan op die mens se rekening as hy God nie aanbid nie. Dit kan net verander deur genade. Net as Christus intree en deur genade red.

DEUR GELOOF LEWEND VAN BINNE (SOLA FIDE)

Een van die slagkrete van die Reformasie is: Die gelowige sal deur die geloof leef. Elkeen wat in Jesus Christus glo word vrygespreek van sonde en skuld. Deur die geloof is ek in staat om die liefde van God te ontvang en te beantwoord. Daardeur kan ek saam God leef en die pad saam met Hom stap.