Genesis 14
Psalm 110
‘Die Here het ‘n eed afgelê en Hy sal nie spyt wees nie: “Jy is priester vir altyd volgens die orde van Melgisedek.”
JESUS CHRISTUS – PRIESTERKONING VOLGENS DIE ORDE VAN MELGISEDEK
Oor die persoon van Melgisedek hoor ons nie baie in die Bybel nie. Net op ‘n paar plekke lees ons sy naam raak. Dit is in Genesis 14 en Psalm 110 wat ons gelees het. In psalm 110 sing Dawid van die Priesterkoning. In die nuwe testament hoor ons van Melgisedek ook in die brief aan die Hebreërs. Hierdie Melgisedek was ‘n besondere man. Hy was koning van Salem en priester van die Allerhoogste. Sy priesterskap is gelykgestel aan die van die Seun van God. Hierin sien ons dat Hy na Jesus Christus wys. Want soos hy priesterkoning is, so sal Christus dit ook wees. Sy priesterskap is ‘n tipe van die ewige priesterskap van Christus. Dit is die orde van Melgisedek wat in die Hebreër brief beskryf word. Dit is nodig want dit is nie alle so eenvoudig nie. Ook vir ons vandag, moet ons mooi lees om te verstaan wat die Here vir ons hier in sy Woord sê. Daarom staan ons vanaand hierby stil. Ons kyk na die seën wat gegee word asook die dank wat getoon word. Dit hou alles verband met ons Here Jesus Christus as Priesterkoning.
Deur Hom word ons geseën
Abraham word deur Melgisedek geseën. Die beloftes wat die Here aan Abraham gemaak het word nou deur sy priester bevestig. Vandag ontvang ons ook die seën van die Here. Elke Sondag word dit hier in die kerk uitgespreek. Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God die Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees is met u almal. Kragtige woorde waarin die Here sy beloftes aan ons elke week bevestig.
Voor Hom buig ons in dankbaarheid
Daar waar die Here seën, bring dit die gelowige tot nederige dankbaarheid. Abraham besef hoe genadig die Here teenoor hom is. Daarvoor is sy dankbaarheid groot. Daarom gee hy aan die priester van die Here, Melgisedek, die beste deel van sy buit. Van die Here ontvang ons oorvloed. Deur Jesus Christus ‘n lewe tot in ewigheid. Dit bring ons tot by dankbaarheid. Deur die geloof gee ons uit dankbaarheid ons eerste en beste deel terug aan die Here.