Posted by Admin

Openbaring 5
HK Sondag 14

‘Toe sê een van die ouderlinge vir my: “Hou op huil! Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die wortel van Dawid, het oorwin, sodat Hy die boekrol en die sewe seëls daarvan kan oopmaak.” En ek het tussen die troon en die vier lewende wesens, en tussen die ouderlinge, ‘n Lam, soos een wat geslag is, sien staan. Hy het sewe horings en sewe oë gehad – die sewe Geeste van God – wat oor die hele aarde heen uitgestuur is.’

JESUS CHRISTUS: DIE LEEU EN DIE LAM

Deur die loop van die eeue bly die vraag: Wie is Jesus? – aktueel. In die Bybel word duidelik beskryf wie Hy is. Hoe uniek Hy is. Hy is verhewe bo die engele. Hy is die laaste profeet. Hy staan bo die lyding van die wêreld. Hy is groter as Moses en almal uit die Ou Testament. Voor Hom was daar niemand aan Hom gelyk nie en na Hom sal daar ook nie so iemand wees nie. Uniek is Hy – ware God en mens. Ontvang deur die Heilige Gees,  gebore uit die maagd Maria. Om ons te red moes Jesus Christus mens word soos ons. In elke opsig moes Hy aan sy broers gelyk word. Die Leeu uit die stam van Juda, sal die Lam wees wat geslag word.

Die Leeu uit die stam van Juda

In vers 5 het ons gelees: ‘Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die wortel van Dawid, het oorwin, sodat Hy die boekrol en die sewe seëls daarvan kan oopmaak.’ Ons bely dit ook in die Kategismus. ‘So is Hy tegelykertyd die ware nakomeling van Dawid.’ Omdat Hy gebore is uit die maagd Maria staan dit vas. Hoekom is dit belangrik dat Jesus Christus die Leeu van Juda moet wees? Dit is hoe die Here dit bestem. Dit is hoe sy reddingsplan vasstaan. Die Leeu van Juda, sal oorwin. Oor sy oorwinning weet ons heelwat. Johannes beskryf dit klinkklaar in Openbaring 5. Daar beskryf Johannes wat hy in die hemelse troonsaal sien. God sit op ‘n troon met ‘n verseëlde boekrol in sy hand. Die engel vra: Wie is waardig om die boekrol oop te maak? Dan word dit stil. Daar is niemand wat dit kan oopmaak nie. Niemand in die hemel nie, ook nie iemand op die aarde nie. Daar is geen skepsel wat dit kan doen nie. Want almal is deel van die wêreld, maak foute, skiet tekort. Johannes bars in trane uit. Is daar ‘n toekoms vir die mens? Wie kan hulle red van God se oordeel? As daar nie ‘n redder is nie, kan niemand gered word nie. En dan die woorde. Moenie huil nie, die Leeu van Juda het oorwin.

Die Lam wat geslag is

Johannes sien tussen die troon en die vier lewende wesens, en tussen die ouderlinge, ‘n Lam, soos een wat geslag is. Die Leeu van Juda is ook die Lam wat geslag is. Hier sien ons hoe Hy sy oorwinning behaal. Sy oorwinning is ‘n betaling vir die sondes van die uitverkore kinders van die Here. Deur die bloed van Lam word die oorwinning vir ons behaal.