Posted by Admin

Filippense 1:27-2:11
Matteus 10:34-42
HK Sondag 52 v&a 128

‘Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard.’

DIE SWAARD VAN DIE VREDEVORS

Gereeld kom die aanklag: die Bybel is vol van teenstrydighede. Deur sommige word dit as rede gebruik waarom die Bybel nie waar kan wees nie. Want met soveel teenstrydighede kan iets nie reg wees nie. Wanneer iemand met so ’n aantyging kom, moet jy direk jou Bybel uithaal  en vir die persoon vra om vir jou ’n voorbeeld uit die Bybel te wys. Die meeste mense sal dan ’n stap terug doen en sê hulle weet nie presies waar dit staan nie. Of hulle kan nou nie lekker onthou wat letterlik daar staan  nie, maar dat dit daar staan is seker. Een van hierdie skynbare teenstrydigheid sien ons in Mattheus 10. Jesus sê vir sy dissipels: ‘Moenie dink dat ek gekom het om vrede op aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard.’ Hoe is dit nou moontlik? Deur die Bybel sien ons tog dat Jesus sou kom om vrede te bring. Jesaja 9:5 – ‘Want ’n Kind is ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors.’ Dit is Christus,  Hy bring nie net vrede nie, Hy is die opperhoof van vrede, die Koning van vrede. Hoe is dan nou moontlik dat Christus sê: Hy is nie hier om vrede te bring nie, maar om tweedrag te bring onder families?

Dit veroorsaak onrus

Wat beteken dit dat Jesus sê: Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard? Hoekom sê die ‘Vredevors’ dit? Deur die loop van die Bybel is dit tog duidelik dat Christus kom om vrede te bring. Is dit dan nie ’n teenstrydigheid in die Bybel nie? Jesus bring vrede vir hulle wat in Hom glo, maar vir hulle wat nie in Hom glo nie is dit nie die geval nie.

Dit eis toewyding

Die swaard van Jesus Christus eis toewyding. Almal wat aan Christus behoort word opgeroep om hulle kruis op te neem en Hom te volg. Dit hou ’n lewe van lyding en opoffering in. Bo alles in die wêreld moet jy God lief hê. Hy eis volkome toewyding.

Gelei deur die Heilige Gees

Met sy eerste koms kom Jesus om vir ons sondes te betaal. Hy doen die voetwerk vir die vrederyk wat sal kom. Met sy wederkoms sal dié ryk tot stand kom. Solank die sonde hier op aarde is, is dit nie moontlik nie, maar eendag sal dit wel so wees.