Posted by Admin

Spreuke 1

‘Ontsag vir die HERE is die begin van kennis; wysheid en vermaning – net sotte verag dit.’

WYSE MENSE IS ‘N GAWE VAN GOD

Die nuwe jaar het begin. Die 2024 kalenders is toegemaak. Vir ‘n paar dae moet jy nogal gewoond raak aan 2025. Veral as jy die datum neerskryf. ‘n Jaar wat oop voor ons lê. Dit skep verwagting. ‘n Nuwe jaar wat ons mag inkleur? Wat jy vol mag maak met planne. Hoe gaan jy dit doen? Watter keuses gaan jy maak? Hoeveel ruimte skep jy om dit anders te doen as vorige jaar? In jou lewe, in jou verhoudings, in jou werk, in jou geloof, in die kerk? Van God ontvang ons ‘n nuwe jaar. Wat gaan jy daarmee doen? Dit skep ‘n gevoel van iets nuuts. Tog het ek ook altyd die gevoel by die nuwe jaar, dat dit eintlik niks nuuts is nie. Die gewone lewe gaan maar net weer verder. Ons tel die jare van die geboorte van Christus af – 2025. God tel af na die wederkoms toe. Ons is weer ‘n jaar nader daaraan.

Die inhoud van wysheid

Saam met Prediker vorm Spreuke die wysheid literatuur van die Christendom. Op hierdie gebied het die kerk ‘n skat om vir die wêreld te bied. In plaas van psigologiese, boeddhistiese of esoteriese wyshede, ontvang ons ware wysheid van God. Die Spreuke gaan oor vier lewensgebiede: arbeid en die ekonomie, verhoudings met familie en bure, huweliksverhoudings en jou pligte as burger van ‘n land. Die doel is om (jong) mense (seuns, dogters, leerlinge) wegwys te maak in die lewe van welgeluksaligheid. Dit is waaroor die inhoud gaan. Waarna soveel mense op soek is. ‘n Lewe wat geken word aan: diensbaarheid, egtheid, transparansie, geduld, integriteit. ‘n Lewe wat gegrond is in ontsag vir die Here.

Die oorsprong van wysheid

Wysheid begin by ontsag vir die Here. In die Bybel word die woorde ‘n aantal keer herhaal. Telkens word ons herinner om altyd by God te begin. Soms is die lewe nie oorsigtelik nie, die wêreld ingewikkeld, mense se reaksies onverstaanbaar. Wysheid begin by ontsag vir God. Wysheid begin by Christus in jou en jy in Christus. Hy is jou Verlosser en Heer. Hy roep jou om Hom te dien. In die aanbidding en navolging van Jesus Christus word jy wys. Jy word nie wys deur net na jouself te luister nie, of deur boeke te lees nie. Wysheid begin daar waar jy aan die voete van die Here sit. Daar waar jy na sy stem luister.

Die noodsaak van wysheid

In hierdie lewe is wysheid noodsaaklik. Kosbaar om wyse mense in jou lewe te hê. Mense wat jou kan bystaan met advies. Mense met ‘n stuk insig, geduld en ervaring. Mense wat in ingewikkelde omstandighede die oorsig kan hou. So gee die Here wysheid vir ons as sy kerk. Hier mag ons saam vashou aan Hom. Met ontsag leef ons vir Hom tot eer van Hom.