Posted by Admin

Matteus 16:1-12

‘’n Bose en owerspelige geslag vra ‘n teken, maar geen teken sal aan hulle gegee word nie, behalwe die teken van Jona.’

Die enige ware teken: Jesus Christus

Die Fariseërs en Sadduseërs vra dat Jesus vir hulle ’n teken moet gee. Hulle wou weet of die verhale wat hulle van Hom gehoor het waar is. Hulle glo nie dat Jesus die Seun van God is nie. Indien dit so is moet Jesus dit maar eers self bewys. Hy moet vir hulle ’n wonderdaad uit die hemel aantoon. Die Fariseërs en Sadduseërs eis dat Jesus Homself voor hulle moet verantwoord en bewys. Dit is baie menslik om vir tekens te vra. Mense is onseker, weet nie wat om te doen nie. Weet nie wat om te glo nie. Wil nie keuse op jou eie maak nie, maar vra liewers vir ’n teken. In die Bybel kom ons baie tekens teen. Gideon vra vir ’n teken. Jona vra vir ’n teken. Moses vra vir ’n teken. Dit is almal in die Ou Testament. Ons hoor ook oor die tekens van die eindtyd. Dit wat gaan gebeur voordat Jesus terugkom. Die groot oorloë wat kom. Dit is vir ons belangrik om van die tekens bewus te wees, maar dit is nie bepalend in jou lewe nie. Want daar is slegs een wat bepalend is in die lewe en dit is Jesus Christus. Hy is die teken.

Blindheid deur ongeloof

Die Joodse leiers kom spesiaal na Galilea toe. Hulle reis vanaf Jerusalem om die probleme op die platteland uit te sorteer. Hulle kom om vir Jesus stil te maak. Om vir die skares aan te toon dat Hy ’n valse profeet is. Dit wil hulle doen deur te vra dat Jesus vir hulle ’n teken uit die hemel moet wys. Jesus doen dit nie, terwyl Hy dit in sy almag sekerlik kon doen. Die Fariseërs en Sadduseërs sal dit nie glo nie want hulle leef in ongeloof. Daardeur is hulle so verblind dat hulle ’n teken vra oor Christus terwyl Hy reg voor hulle staan.

Insig deur geloof

Deur geloof het die dissipels bely dat Jesus Christus die Seun van God is. Deur geloof het hulle verstaan wie Christus is. Alhoewel dié geloof gereeld klein was, was dit daar. Jesus waarsku hulle dat hulle moet oppas vir die suurdeeg van die Fariseërs. Deur ’n valse leer kan ’n hele volk verval in ongeloof. Die insig wat ons van die Here af ontvang deur geloof moet ons bewaar. Dit kan ons doen deur die oë gerig te hou op die enige ware teken: Jesus Christus.