1 SAMUEL 8
‘DIT WAS EGTER VERKEERD IN DIE OË VAN SAMUEL DAT HULLE GESÊ HET: “GEE VIR ONS ‘N KONING OM ONS TE RIG.” SAMUEL HET TOE TOT DIE HERE GEBID.’
NICEA [6] – DIE KONING SONDER ‘N EINDE
1 Samuel 8 is ‘n belangrike hoofstuk in die Bybel. Dit is ‘n skarnier hoofstuk. Hier kry jy die oorgang van die rigter na die koning tydperk. ‘n Aantal sake in hierdie hoofstuk is vir ons vandag belangrik. Onder andere dit wat in vers 5 geopper word. ‘Kyk, u het oud geword, en u seuns volg nie in u voetspore nie.’ Wie gaan leiding neem? Nou dat Samuel oud is, en sy seuns die verkeerde doen? Wie vat die voortou? ‘n Bekende vraag. Dit is ‘n bekende gedagte. Maklik kan jy dit deurtrek na jou eie lewe. As jy op ‘n punt kom en dink: wat nou? Wat is die regte ding om te doen? Watter studie gaan ek volg? Is die man of vrou die regte lewensmaat vir my? Waar kom jou leiding dan vandaan? Wat is deurslaggewend? Na wie kyk jy? Die tyd van Samuel mag dalk lank gelede wees.
Maar die vraag wat aan die orde gestel word: is iets eietyds. Samuel, jy is oud. Jy seuns kom die mas nie op nie. Ons het ‘n koning nodig.
DIE VERSOEK VAN DIE VOLK
Die leiers van die volk kom met ‘n versoek na Samuel. Ons soek ‘n koning om ons te lei, net soos die ander nasies. Die reaksie van Samuel hierop – ‘Dit was egter verkeerd in die oë van Samuel…’ Dit wat die volk vra is ontoelaatbaar. Vir Samuel is dit ‘n slegte idee, omdat hulle God as hulle Koning nie raaksien nie. Hulle sien nie sy heerlikheid nie. Eiewillig hoor ons hulle versoek – ‘Ons wil ook soos al die nasies wees, ons koning moet oor ons regeer…’
DIE ANTWOORD VAN DIE HERE
Die Here se antwoord is duidelik: ‘Luister na die volk in alles wat hulle vir jou sê, want dit is nie jou wat hulle verwerp het nie, maar My het hulle verwerp om oor hulle koning te wees.’ Die woord verwerp beteken ook minag, verafsku, afwys. God is gewoond om dit as antwoord van sy volk te kry. ‘Dit stem ooreen met al die dade wat hulle gedoen het, van die dag dat Ek hulle uit Egipte laat optrek het tot vandag toe…’ Samuel – gee dus gehoor aan hulle versoek. Besonders dat die Here dit sê. Samuel is reg, dit is ‘n ontoelaatbare idee. Tog laat die Here toe dat dit gebeur, maar met ‘n waarskuwing.
BROERS EN SUSTERS VAN JESUS
Die kern van die gedeelte bring ons by die Koning. Ons het ‘n Koning nodig. Die Here gee vir ons ‘n Koning – Jesus Christus. Sy Koninkryk word geken aan skoonheid, goedheid, waarheid en liefde.