Lukas 18:15-17
1 Petrus 2:1-5
‘Amen, Ek sê vir julle: Wie die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal beslis nie daar ingaan nie.’
LAAT DIE KINDERTJIES NA MY TOE KOM
Die teksgedeelte vanaand is ‘n harde uitspraak: ‘Wie die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal beslis nie daar ingaan nie.’ Met die woorde plaas Jesus ons aandag weer op die kern. Tussen al die moeilike probleme, belangrike sake en spannende gebeurtenisse. In die wêreld. In ons land. In jou familie. In jou self. Daarbinne vra Jesus na jou siel. Hy gee vir jou ‘n vergrootglas in die hand! Kyk na die kleintjies. Dan sien jy hoe dit werk! Dan sien jy hoe God werk, ook met jou.
Jesus en die kinders
Dit is fassinerend om jou te verdiep in hoe kinders is. So gereeld het hulle ‘n grenslose vertroue. Hulle is eerlik en direk. Vrae baie vrae. En is onbevange oop vir iets nuuts. In Lukas 18 gaan dit oor die kinders. Hulle ouers bring hulle na Jesus toe. Nie vir genesing of onderwys nie, maar om aangeraak te word. En ook dat Jesus vir hulle kan bid. Dit noem Lukas in sy evangelie. Hierdie ouers wil graag dat hulle kinders deur Jesus aangeraak word (vers 15). Want die aanraking van Jesus is groot.
Kinders van die koninkryk
Jesus gebruik die optrede van die mense daar en sy dissipels om geestelike onderwys te gee. ‘n Alledaagse gebeurtenis gebruik Hy vir onderwys oor die Koninkryk. Die kern van sy onderwys is die ontvang van die koninkryk. Aangrypend dat hier die klemtoon geplaas word op die koninkryk ontvang. Ontvang is kenmerkend van ‘n baba of ‘n kind. Presies dit geld hier. Die toekoms van ons jeug is heeltemal in die hande van Jesus.
Hoe jy kind word
Hoe word jy nou kind? Dit gebeur deur die wedergeboorte. Daar waar die Heilige Gees in jou lewe werk. Waar jy geestelik gebore word. Dit gebeur deur bekering en verandering. Om ‘n kind te word is ‘n diep geestelike proses. Dit word vir ons gegee vanuit die hemel. Dit gebeur net uit genade deur die werk van die Heilige Gees. Kind-wees is ‘n vrug van die wedergeboorte en ‘n gevolg van die daaglikse bekering en verandering.