Skip to content
Menu

Aan die einde van die Rigtertyd – die tyd waarin Samuel gebore word, is die geestelike toestand van Israel baie swak.  Dit kom nêrens duideliker na vore as uit die ‘diens’ van die twee seuns van Eli, wat priesters in Silo is nie.

Die Bybel stel hulle aan ons voor as ‘deugniete’.  Hulle is nutteloos, waardeloos – en staan in die pad van die bediening. 

Hulle skend die heiligheid van die offers wat die volk moet bring

  • Hulle is nie tevrede met wat God vir hulle voorsien nie, en soek die beste vleis van die offers uit
  • Hulle wil nie die deel van die offer wat aan God gewy is, aan Hom gee nie.

Só erg is dit dat hulle met geweld die dele van die offervleis wat hulle wil hê, by die volk afneem.  Natuurlik – met so ‘n voorbeeld, met hierdie wanpraktyke en eiewillige diens aan die HERE, is dit nie snaaks dat die volk die offers (en daarom ook vir God) verag nie.

Die Bybel skep dan ‘n belangrike kontras: Samuel, ‘n jong seun- wat deur God se genade in nederigheid en opregtheid Hom bly dien.  Tot die mate wat Hanna hom kan begelei en opvoed- doen sy dit en daarom ontvang Hanna en Elkana telkens die seën van die HERE.  En soos die sonde van Hofni en Pinehas ‘groot word’ voor die HERE, neem Samuel in volwassenheid en guns toe voor die HERE (word hy groot).