Die Romeinebrief beantwoord ‘n belangrike vraag: Hoe kan die sondaarmens, tot die dood toe skuldig, voor God regverdig en onskuldig staan? Dit is ‘n saak wat in ons belydenis weerklank vind: Hoe word ons getroos in hierdie jammerdal van ellende?
Ons troos moet standvastig wees, dit moet ons regop hou, dit moet ons diensbaar maak.
Ons troos moet van buite ons kom; want die mensehart is bedrieglik en daagliks stapel ons ons sondeskuld net verder op.
Daarom bring die Here alleen die ware troos waarna ons smag. Die Skrif leer ons, die belydenis eggo dit: Ons behoort aan God, Hy wat ons losgekoop het deur Sy Geliefde Seun, ons Here Jesus Christus.
Die eis van sy geregtigheid is dat die sonde gestraf word. EN dan straf Hy dit aan die Sondelose Lam wat ons sy geregtigheid skenk.
Dit is ware troos.
Ons is versoen met God, ons is sy eiendom, vrygekoop – maar duurgekoop.
Daarom hoor ons vanoggend: 1) Wat ware troos is 2) Waaruit ware troos bestaan 3)Waarom ons die troos nodig het. Ja, waarlik die oorwinningslied van die verloste: God is vir ons, wie kan teen ons wees!