Prediker: Ds. Jan-Louis Lee | Kerk: GK Waterkloofrand | Datum: 25 Oktober 2026 om 09:00 | ▶ Kyk op YouTube
Israel het groot donkerte geken as slawe in Egipte wat ernstig verdruk word. Selfs toe die Farao sterf, het hulle omstandighede nie verbeter nie. Hulle het gesug, geweeklaag en om hulp geroep. En dan hoor ons: “God het hulle gekerm gehoor” (Eksodus 2:24).
Die Here het nie sy volk vergeet nie. Hy het hulle gekerm gehoor, sy verbond onthou en hulle ellende raakgesien. Hy sê vir Moses: “Ek het duidelik gesien die ellende van my volk … Ek het hulle jammerklagte gehoor … ja, Ek ken hulle smarte” (Eksodus 3:7).
Let op: God sien, God hoor en God ken. Sy volk se nood het nie by Hom verbygegaan nie, al het hulle lank op uitkoms gewag. Op sy tyd het Hy ingegryp en Moses geroep. Die verlossing het nie begin by Moses se krag nie, maar by God se trou.
By die brandende doringbos openbaar die Here Homself as die “EK IS”. Hy is nie ’n God wat sy beloftes vergeet nie. Hy bly getrou aan sy verbond.
Hierdie verlossing wys vooruit na Jesus Christus. In Hom het God na ons toe gekom. Christus het ons sonde op Hom geneem en ons deur sy dood en opstanding uit die mag van sonde verlos. Daarom bou ons hoop nie op ons eie krag of veranderende omstandighede nie.
Die Hervorming het die kerk na God se Woord teruggeroep. Deur die Woord leer ons die Here ken en hoor ons sy beloftes. Wanneer die donkerte jou omring, hou vas aan sy Woord: God sien, God hoor en God ken. Hy het sy kinders nie vergeet nie.
Waarom kan dit soms vir ons voel asof God ver weg is wanneer ons swaarkry? Wat leer Eksodus 2:23–25 ons oor God se betrokkenheid by sy kinders?
Lees Eksodus 3:7–8. Watter drie dinge sê die Here oor sy betrokkenheid by Israel se ellende? Hoe versterk dit jou vertroue op Hom?
Israel moes lank wag voordat hulle verlos is. Is daar ‘n situasie in jou lewe waarin jy sukkel om op God se tydsberekening te vertrou? Hoe kan hierdie gedeelte jou help?
Die Hervorming het die kerk opnuut na die Woord teruggeroep. Watter plek het Bybellees, eredienste en huisgodsdiens tans in jou lewe? Wat kan jy prakties verander om God se Woord ‘n groter prioriteit te maak?
Hoe wys God se verlossing van Israel vooruit na Jesus Christus? Hoe help die wete dat Christus jou van sonde verlos het jou om ook in moeilike omstandighede aan God se beloftes vas te hou?