Prediker: Ds. JL Lee | Kerk: GK Waterkloofrand | Datum: 8 November 2026 om 17:30 | ▶ Kyk op YouTube
Wat baat dit ons dat ons glo?
Wat is die waarde daarvan dat ons vashou aan die evangelie en bely dat Jesus Christus ons Verlosser is?
Die antwoord van die Kategismus is eenvoudig, maar allesomvattend: Ek is in Christus voor God geregverdig en ’n erfgenaam van die ewige lewe.
Van nature wil die mens nie aanvaar dat hy niks kan bydra tot sy eie verlossing nie. Ons wil graag iets verdien, iets doen waarmee ons God se guns kan wen. Ons probeer dikwels selfs ons beste werke voor God ophou asof dit ’n grond vir ons redding kan wees. Maar die Skrif leer ons dat daar nie een regverdige is nie, selfs nie een nie. Ons staan almal skuldig voor die heilige God.
Juis daarom is die evangelie so wonderlik:
Ons word nie deur ons eie verdienste geregverdig nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus. Om geregverdig te wees, beteken dat God ons onskuldig verklaar en ons as volkome gehoorsaam voor Hom beskou.
Hoe is dit moontlik?
Deur die toerekening van Christus se geregtigheid. God skryf dit wat Christus gedoen het op óns rekening. Die skuld wat ons moes betaal, is deur Hom gedra. Sy volkome genoegdoening, geregtigheid en heiligheid word aan ons toegereken asof ons self nooit gesondig het nie en al die gehoorsaamheid volbring het wat Hy namens ons volbring het.
Dink aan ’n hofsaak: Ons staan skuldig voor God. Ons gewete kla ons aan en die aanklagte is waar. Tog word ons vrygespreek, nie omdat God die skuld miskyk nie, maar omdat Christus as ons Borg daarvoor betaal het.
Daarom het ons vrede by God deur ons Here Jesus Christus. Dit is nie bloot ’n gevoel nie, maar ’n vaste werklikheid: Ons is nie meer God se vyande nie. Deur Christus het ons toegang tot die Vader en mag ons in die genade vasstaan.
Wanneer ons gewete ons aankla en die Satan ons aan ons sondes herinner, is ons troos nie in onsself nie, maar in Christus. Ons is sondaars, ja, maar ons ken Hom wat vir ons gely en betaal het.
Christus alleen is ons geregtigheid!