Prediker: Ds. Jan-Louis Lee | Kerk: GK Waterkloofrand | Datum: 15 November 2026 om 09:00 | ▶ Kyk op YouTube
Psalm 1 stel ons voor twee paaie: dié van die regverdige en dié van die goddelose. Op watter pad wandel jy?
1. DIE LEWENSTYL VAN DIE REGVERDIGE EN DIE GODDELOSE (verse 1–2)
Die goddelose beweeg van God af: hy wandel in die raad van goddeloses, staan op die weg van sondaars en sit by die spotters. Sonde word ’n leefwyse waarin God en sy Woord geminag word.
Die regverdige vind vreugde in die wet van die Here. Hy oordink God se Woord dag en nag en laat dit sy lewe rig. Daarom moet ons wegdraai van wat God se Woord weerspreek en ons aan sy wil onderwerp.
2. DIE GEVOLGE VAN DIE TWEE WEË (verse 3–4)
Die regverdige is soos ’n boom by waterstrome: hy ontvang voeding en dra vrugte. Die goddelose is soos kaf wat deur die wind verstrooi word. Sy lewe is sonder standvastigheid en loop op ondergang uit.
Ons groei nie uit eie krag nie. God plant ons in Christus en vestig ons as lede in sy kerk. Deur sy Woord en Gees voed Hy ons om vrug te dra.
3. GOD SE OORDEEL OOR DIE TWEE WEË (verse 5–6)
Die goddelose sal nie voor God se oordeel bestaan nie. Die Here ken egter die weg van die regverdiges en hou hulle in sy verbondsliefde vas.
Wie is die regverdige mens? Nie een van ons nie. Almal het gesondig en kan nie deur eie gehoorsaamheid geregverdig word nie. Die welgeluksalige Man van Psalm 1 is Jesus Christus. Hy het God se wil volmaak gehoorsaam en deur sy offerdood die weg oopgemaak.
Deur geloof ontvang ons sy geregtigheid. Laat ons in Christus bly, ons in sy Woord verheug en vrug dra tot sy eer.