Lees Kolossense 3:1-17 <- Klik om nou te lees Teks: vers 14 Uitverkorenes van God ontgroei hulle kinderskoene. God se genadige uitverkiesing en liefde gaan oor meer as ons saligheid. Wanneer ons oor die uitverkiesing praat, dink ons meestal aan die feit dat uitverkore mense gered is. Uit ons teksgedeelte is dit egter duidelik dat die uitverkiesing ook ʼn ander gevolg het. Nadat Paulus in 3:17 die gelowiges die uitverkore volk van God en sy geliefdes genoem het, beklemtoon hy hoe hulle lewe moet lyk. As jy deur God uitverkies is, sal jou lewe ʼn unieke karakter vertoon. By uitverkorenes begin volmaaktheid op ʼn besondere manier reeds in hierdie bedeling gestalte vind. Wat is die unieke karakter wat die uitverkorenes se lewe vertoon? Paulus noem in verse 12 en 13 duidelike voorbeelde van hierdie unieke lewe. Dit is duidelik dat hierdie unieke lewe alles te doen het met gelowiges se verhouding met mekaar. Hy vat die unieke lewe egter in vers 14 saam as hy beklemtoon dat gelowiges bo alles mekaar moet liefhê. Hierdie liefde, sê hy, is die “band van die volmaaktheid” (vgl. die OAV). Dit is die liefde van gelowiges vir mekaar wat gelowiges saambind en hulle ware aard, naamlik dat hulle in Christus volmaak is, na vore laat tree. Die liefde vir mekaar is ook die band wat gelowiges hulle kinderskoene laat ontgroei sodat hulle meer en meer hulle ware aard vertoon. In hulle liefde vir mekaar begin die volmaaktheid wat Christus bewerk het, reeds in hierdie lewe gestalte vind. Hierdie groei na volmaaktheid word gestuur deur die vrede van Christus. In hierdie groei na die volmaakte, neem die vrede van Christus ʼn belangrike plek in (vgl. v. 15). Dit is duidelik dat Paulus na die vrede verwys wat Christus vir die gelowige verkry het en deur die Heilige Gees in die gelowige se hart bewerk. Dit is ʼn innerlike vrede waarin ek sekerheid het van God se vergifnis, van sy liefde en van sy troue versorging en ook ʼn vrede wat my hart met dankbaarheid vul. Hierdie vrede, sê Paulus, moet in ons harte heers. Letterlik staan daar dat hierdie vrede die skeidsregter in ons harte moet wees. Die skeidsregter is die een wat finaal bepaal of iets reg of verkeerd is – hy gee die deurslag. Uitverkorenes is mense wat ag gee op hierdie skeidsregter. As my optrede teenoor my naaste die vrede van Christus in my sal versteur, maak ek die optrede daar en dan dood (vgl. 3:5). Voorbeelde van sulke optrede wat die gelowige moet doodmaak, is woede, haat, nyd, gevloek, vuil taal en leuens (vgl. 3:8-9). In die plek van hierdie verkeerde optrede moet dan optrede kom wat gestuur word deur die vrede van Christus. Voorbeelde van sulke optrede is meelewing, goedgesindheid, nederigheid, sagmoedigheid, verdraagsaamheid, skenk van vergifnis en om ander met alle wysheid te leer. (vgl. 3:12-13 en 3:16).